As jy soms wens jy het eerder stilgebly

0
9
geloof3.jpg

Partykeer kan jy dit net nie help nie, jy móét iemand eenvoudig “vriendelik teregwys”. Of oor alles nag, soos jou man dit stel, net om later jou tong te wil afbyt. Natuurlik wil jy dit nie erken nie. Jy is mos ’n oulike vrou, net streng. Jy weet wat reg en verkeerd is, maar dalk is jy tog onnodig moeilik of bakleierig.   Beantwoord hierdie vyf vrae om te bepaal of jy ’n bakleierige vrou is. As jy op twee of meer vrae ja antwoord, lees dan verder. Kla jy maklik oor dinge wat jou pla?

  • Voel jy die meeste van die tyd ontevrede?
  • Probeer jy ander mense manipuleer?
  • Verwag jy altyd meer en beter?
  • Soek jy meestal net jou eie plesier?
  • Julle is op pad om by ’n restaurant te gaan eet en almal is in ’n goeie bui. Dan gebeur dit: Manlief besluit om ’n langer roete te ry. Hoe kan hy dit doen? Hy weet tog julle moet betyds wees, want jou vriendin en haar man kry julle oor tien minute daar. Jy is dadelik op jou perdjie. Moet jy dan nou altyd die dinkwerk vir almal doen?

  Hoekom ry hy nie net die pad wat jy altyd ry nie? Dis ook nie lank nie, of kwaai woorde vlieg heen en weer. Die kinders is tjoepstil agter in die motor en jy weet wat hulle saggies vir mekaar sê: “Ma is weer in een van haar moods!” Skielik is die hele aand bederf, julle kan maar netsowel huis toe gaan. En jy kan net jou skerp tong daarvoor blameer. Dit gebeur ook by die werk dat die geringste dingetjie jou irriteer. Soms is dit regtig iets kleins, soos jou kollega wat te lank met haar kêrel oor die foon kuier. Jou lont is kort, baie kort. Almal weet al dat as jy eers in dáárdie bui is, hulle liewer uit jou pad moet bly. Sulke tye wil niemand naby jou wees nie, nie eers jyself nie. Dit maak jou hartseer en jy wens jy kan verander. Trots en hoogmoed is die groot sondaars wat veroorsaak dat ’n mens begin dink jy weet beter as ander. Dan word jy ’n beheervraat en glo almal moet dinge op jou manier doen, of daar is moeilikheid. En voor jy jou kom kry, is jy gedurig besig om ander mense se doen en late te kritiseer. Jy word ’n twisgierige vrou, ’n druppende kraan … Maar hoe raak jy van die rusiemaker binne-in jou ontslae? Dis nie maklik om nederigheid aan te leer nie. Ons is van nature geneig tot hoogmoed. Iets wat jou kan help, is om ’n lysie te maak van al die dinge wat jy in jou lewe waardeer. Die oomblik dat jy verstom staan oor alles waarmee God jou seën, sal jy besef hoe nietig jy eintlik is. Waardeer ook die mense om jou en wat elkeen vir jou beteken. ’n Goeie manier om uit te vind wat iemand vir jou spesiaal maak, is om te dink wat sal gebeur as daardie persoon vandag uit jou lewe sou verdwyn. Dis amper iets soos: Jy weet nie wat jy het voor jy dit verloor nie. Wanneer jy leer om ander se pogings te erken en te respekteer, sal jou hele ingesteldheid verander. ’n Nederige persoon, sê Salomo, sal eer en ’n goeie lewe kry. Watter lewe kan nou beter wees as een sonder twis en onmin? As jy begin agterkom dat jy nooit tevrede is met enigiets nie, sal jy moet briek aandraai. Ontevredenheid kan skelm in jou hart kom nesskrop en die goeie verhoudings in jou lewe bederf. Jy wil dalk hê jou man moet vir jou blomme bring. Eendag daag hy baie in sy skik by die huis op met ’n groot bos pienk rose. Maar jy kan jou teleurstelling nie wegsteek nie – hy weet mos jy haat pienk! Die uiteinde? Sy ego is gekrenk en jy gaan nie gou weer blomme kry nie! Hy gaan beslis voel dat hy jou net nooit tevrede kan stel nie. Neem vandag ’n besluit om minder puntenerig te wees. Wees meer tevrede met wat jy reeds het en sê gereeld dankie daarvoor. Maak hierdie spreekwoord jou leuse: As jy nie het wat jy bemin nie, bemin dan wat jy het! Leer om God met jou hele hart te vertrou en om nie op jou “eie insigte” staat te maak nie. Moenie jou gevoelens of opinies vertrou voor jy dit eers getoets het nie. Kyk maar net hoe het jou eie insig daardie aand julle hele ete versuur! Vertroue sal jou na gehoorsaamheid lei en dan sal jy vanself nederig en meer tevrede wees. So, wanneer jou man volgende keer die ander roete ry, geniet eerder die natuurskoon en ontspan. Jy hoef nie altyd in beheer te wees nie! Watter soort vrou dink jy wil God hê jy moet wees? Beslis nie een wat gedurig fout soek en ontevrede is nie. Wees eerder ’n Spreukevrou wat vir die mense na aan haar “baie werd” is, “net voordeel” bring, “geen kommer het oor die toekoms nie”, en “leiding gee met liefde”.