As jy stilbly, kan niemand jou help nie

2130

Johan Laten weet waarvan hy praat wanneer hy mense oor die stryd met depressie vertel. Dit is ’n pad wat hy immers al dekades lank stap.

Ek is dankbaar vir my gesin se invloed, want…

hulle is altyd daar om my te ondersteun, al is dit daar tye wat dit nie vir hulle maklik is nie. Dit is nou al dekades, sedert my tweede jaar op universiteit, dat ek teen depressie baklei. My vrou het die swaarste gekry, want as ek nie oor my gevoelens nie praat, word sy uitgesluit.

Dit was ’n proses om te leer om oor die siekte te praat sodat my vrou en kinders ook beter kon verstaan en my ten volle kon aanvaar. Hulle doen moeite om my optredes by te woon, en verdra my wanneer ek in my kop loop sit of baie besig is met ’n toneelproduksie.

Van die grootste mentors in my lewe…

is Gerjo Ben van der Merwe. My pad saam met hom het begin ná my monoloog oor die Romeinse soldaat wat met Jesus se kruisiging die spykers ingekap het. Hy het dit gesien, en ek het dit later by sy eerste boekbekendstelling gedoen. ’n Paar jaar later het ek voltyds by die Kruispad-bediening betrokke geraak.

Prof. Lizette Rabe, wat die Ithemba-stigting op die been gebring het, het my ook beïnvloed. Ná ’n insetsel op Kwêla oor die stigting se Hike for Hope het ek haar gekontak. Sy het my baie ondersteuning gebied met my idee om mense bewus te maak van hoe depressie ons almal kan raak.

Toneelkuns is my groot passie, want…

jy kan stories daarmee vertel om mense te bemoedig en hulle ook te laat lag. Mettertyd het ek besef hoe ’n groot gawe dit is. My loopbaan het eers wye draaie gemaak, want ek het net nie geweet wat ek wou doen nie. Dit was frustrerend, en my gesondheid het daaronder begin ly.

Ná die eerste vertoning van die toneelstuk, #puppet, was dit duidelik dat dit my roeping was. Mense het dit baie goed ontvang. Waar ons optree, is die toneelopvoering net ’n aanknopingspunt vir die gesprek. Dit is belangriker as die optrede self. Mense kan nie die moeilike kwessies by die horings pak om daaroor te praat nie.

Ek gebruik dit om my boodskap oor te dra… 

deur die #puppet-toneelstuk om basiese inligting oor die siekte oor te dra, van die simptome en behandeling tot wat jy self daaromtrent kan doen.

Ons is gewoond daaraan om alles op ’n skerm te sien; daarom help die visuele boodskap mense om dit langer te onthou. Dit is ’n multimedia-aanbieding. Die teks word aangepas vir gehore sodat dit vir hulle wêreld sin kan maak.

Agterna is dit makliker vir mense om aan die vraag-en-antwoordsessie deel te neem. Ek is nie ’n sielkundige of ’n berader nie, maar vertel net my lewensverhaal en hoop dat dit ander op ’n manier sal ondersteun.

Mense moet oor hulle eie stryd praat, want …

as jy stilbly oor hoe baie jy sukkel en dat jy nie krag het om aan te gaan nie, kan mense jou nie help nie.

My laaste werkgewers was wonderlike mense. Hulle het baie empatie met my gehad en het verstaan dat ek nie honderd persent by die werk kon gee nie. Dit het baie gesprekke gekos, maar uiteindelik het hulle my ’n pakket aangebied. Dit het my met geld gehelp en die vryheid gegee om die oorgang na my bediening te maak.

Deurdat ek oor my ervaring gepraat het, het my eie familie en skoonfamilie ook uiteindelik beter begrip van my stryd begin kry.

Wat ek graag nog sal wil bereik, is…

om die span uit te brei, want op hierdie stadium doen ek dit nog alleen. Dan sal ons meer mense oor ’n korter tyd kan bereik. Ons almal word regstreeks of onregstreeks deur die siekte geraak. Die statistieke daarvan in Suid-Afrika is genoeg om te bewys hoe groot die probleem is.

My doel is om die onderwysdepartmente en onderwysers te laat besef dat daar iets gedoen moet word. Selfdoodgevalle onder tieners raak elke dag meer en jonger en jonger tieners word gediagnoseer. Ek was self eers ’n onderwyser. Dit verstom my dat daar baie skole is wat nie depressie onder die kinders én onderwysers hanteer nie.

Práát oor depressie
Johan Laten, Depressiepakket (Selfhelpgids +
selfdoenboek + MP4-video’s + MP3-oudio’s) +
Ook beskikbaar as ’n e-pakket

voelgoedboeke.co.za