As skrywers nie meer skryf nie

Ek bied onlangs ‘n skryf werkswinkel aan. Daar is geen einde aan my opgewondenheid. Die vlakke van kreatiwiteit loop hoog. Die deelname is verstommend. Dan verklap een van die studente: ‘Ek het skrywersblok’.

Hierdie verskynsel van ‘skrywersblok’ het my nog altyd gefassineer. Ek het nog nooit voor ‘n skoon wit papier gesit en nie woorde sien dans op die bladsy nie. Maar, ek het al dikwels van hierdie toestand by ander skrywers gehoor. Die student vertel hoe hy gereeld gedigte en liedjies die lig laat sien het, voor die dood van sy moeder. Toe verdwyn sy kreatiwiteit skynbaar ook by die agterdeur uit. My skoonsus, ook ‘n vryskutskrywer in Amerika vertel van ‘n seisoen wat haar woorde ook net opgedroog het. Daar was ‘n woord-droogte.

Terwyl ek hierdie tendens bepeins word ek herinner aan Mattheus 12:34 – ‘From the overflow of a man’s heart, he speaks’. Dit sit ‘n ander ‘spin’ op ‘skrywersblok’. Een van die oefeninge wat ek die studente aan blootgestel het, was om vir ‘n paar minute neer te skryf wat in hul gemoed aangaan. Niemand gaan dit sien nie. Moenie ‘edit’ nie. Wees net vir ‘n oomblik eerlik met wat in jou binnekant omgaan. Trane loop. Diep sugte word gesug. Harte word gehoor. Die atmosfeer is belaai. Vrede daal neer.

Ek wonder hoeveel ‘skrywersblok’ te doen het met harte wat nie gehoor word nie? Miskien ontwyk kreatiwiteit jou omdat jy ‘n uitkoms verwag, maar niks in jou menswees belê het nie. Dalk as jou hart gevoed word, sal hy oorvloei van lewe, dalk sal die woorde diep en betekenisvol wees.

Na klas vertel die student hoe hy vir die eerste keer in ‘n ewigheid iets kon neerpen. Hy lees dit vir my. Dis nie oppervlakkig nie. Dis mooi en diep en verklap wat in sy hart aangaan. Dis ‘real’.

‘Skrywersblok’ het niks met ‘n tekort van woorde uit te waai nie. Dit het alles met ‘n tekort aan hart te doen. Waarmee gaan jy jou hart voed vandag?