Avontuur van die lewe

76
Jaco Strydom
Jaco Strydom

Die see is my terapeut. Ek het nou die dag vir meer as ’n week lank om Zanzibar geroei, en ek voel beter. Moenie ’n fout maak nie, dit was alles behalwe “’n gemaklike sessie”. Die springgety het my byvoorbeeld een aand gevang met die gevolg dat ek die nag op ’n rif in die middel van die see tussen twee eilande moes deurbring.

Die wind het erg gewaai en om alles te kroon, was al my goed weens ’n gat in een van my waterdigte sakke sopnat. Ek het binne-in my nat opblaaskajak gaan lê, koud gekry en amper niks geslaap nie. Dit was nie ’n lekker nag nie, maar wel ’n goeie nag.

Ek het klein gevoel, die sterre was beautiful, en die see – die volgende oggend toe die son opkom – mooier as wat ek haar nog gesien het.

Sy lyk waarskynlik dikwels so, maar vir eenkeer was ek op die regte plek, ongemaklik genoeg, wakker genoeg, om dit met my eie oë te kon sien, en te waardeer.

Ek sal dikwels vir die tieners in ons Echo-huise sê, alles wat goed is, is nie altyd lekker nie en alles wat “onlekker” is, is nie altyd sleg nie. Inteendeel!

Die gemaksone is daai mooi, bekende, veilige, lekker plek waar niks groei nie. As jy wil groei, moet jy dit buite grense van dit waaraan jy gewoond is, waag. Ons het die meeste om te leer op onbekende plekke. Nie net omdat daar soveel nuwe dinge skuil nie, maar omdat ons oë dikwels buite ons gemaksones oopgaan.

Ons het die geraas van die see en ’n koue wind nodig om ons wakker te maak.

Dis hoe avonture werk. Jy kan nie sê, ek wil avontuur beleef, maar ek wil nie uitbeweeg nie; ek wil groei, maar ek wil niks waag nie.

’n Goeie terapeut sal jou altyd uitdaag om dit buite die grense van jou gemak te waag. Ons sal dikwels as ons iets werklik betekenisvol beleef het, sê: “Dit was die moeite werd.”

Ek en jy het ontdekking en verwondering nodig om lewendig te voel. Dalk nie noodwendig ’n nag alleen op ’n rif in Zanzibar nie, maar die een of ander avontuur. ’n Omgewing wat my uitdaag, ’n geheim om te ontdek.

Soms beteken dit om vreemde plekke te besoek; om nuwe verhoudings oor grense heen met ander mense as “my eie mense” te bou; om betrokke te raak by uitdagings in die gemeenskap waarby ek gewoonlik sou verbystap.

Die wonderlike ding is dat dit nie net ons oë oopmaak vir nuwe dinge nie, maar ook vir ou dinge. Ek onthou hoe ek destyds vir amper ’n jaar lank in Indië gewoon het. Terug in SuidAfrika het ek my oor die vreemdste “gewone” dinge verwonder.

Ek het skielik skatryk gevoel al was ek steeds net ’n student.

Die groot lesse van die lewe, die lesse wat maak dat ons oë oopgaan, dat ons weer begin ontdek en lewendig voel, word op ander plekke geleer as in boeke, voor die televisie of op die internet.