Bagasie in my tas … en in my kop

Toe ek begin pak het om Thailand toe te gaan, was die lugredery se toegelate bagasie twee groot tasse en een stuk handbagasie. Om maande in ‘n vreemde land deur te bring, het ek gedink, moet ‘n mens amper alles wat jy besit, inpak. Toe nie. My oudste dogter, baie meer reis-wys as ek, het baie gou my hopies kom afpak en uiteindelik is ek net met een tas en my handbagasie hier weg. Ek was baie dankbaar vir die afskaling toe ek in Thailand met busse en trokke deur die platteland moes reis en sélf my bagasie hanteer. Teen dié tyd het ek ook al van die tas (en heelwat van sy inhoud) ontslae geraak en ‘n rugsak gekry.

Voor my vertrek het my jongste en haar man vir my een van daardie oulike halfmaan-kussinkies gegee waarmee ‘n mens reis. Dit kon nie in ‘n tas pas nie, maar dit kon oral vasknip en het my kilometer vir kilometer vergesel – ‘n regte lewensredder op baie lang ritte, dikwels in onkonvensionele vervoermiddels.

My reise, en veral my verblyf in Thailand het my geleer dat “travelling light” ‘n dieper betekenis ook het. Elke keer as ek van blyplek verander het, het ek iets agtergelaat, en snaaks genoeg, ek het nooit enigiets wat ek laat agterbly het, gemis nie. Tog, toe ek dit gepak het, het ek gesweer dit is noodsaaklikhede! Ek is baie dankbaar dat ek geleer het dat ek met minder kan klaarkom: minder klere, minder haastigheid, minder luukses, minder bekommernis!

Toe ek aan die einde van my avontuur begin inpak vir die tog huis toe, het die uitdun en afskaal-proses weer afgespeel: sekere goed het ek by die skool agtergelaat vir my opvolger, en ander by my blyplek vir my bure. Van sekere alledaagse items het ek met weemoed afskeid geneem, soos die rugsakkie wat die werk van ‘n kattebak moes doen as ek op my fiets daar rondgery het. Ook my helder-oranje reenjas en my blou sambreel wat my deur die moesonreënseisoen gehelp het, moes agterbly. Ek het die pakplek nodig gehad vir geskenke vir my mense by die huis, en my foto’s en herinneringe neem gelukkig nie plek en gewig op nie.

Toe ek op die lughawe in Bangkok inweeg om huis toe te kom, was my bagasie baie kilogramme onder die toegelate limiet – en ook sommer heelwat makliker om te hanteer. Tog was daar ‘n paar gemaklike plakkies, ‘n mooi blou Woolies-rokkie en ‘n sagte toppie wat elke keer oorleef het, en saamgekom het huis toe.

Al hierdie in- en uitpakkery het my laat dink: ons moet hierdie beginsels in elke dag se lewe ook toepas: luister na dié wat meer ondervinding het, al is hulle jonk, of selfs nog kinders. ‘n Mens hoef nie oud te wees om wys te wees nie. Dra dít wat met liefde gegee word, al die pad saam: dit maak die reis net makliker. Gooi kort-kort onnodige, uitgediende en verslete goed (en gedagtes) uit. Dit maak jou las net swaar en gebruik plek wat kan gebruik word om jou eie en ander se lewens op te helder.

Tog, aan sekere dinge (en mense, en herinneringe) kan ‘n mens maar vashou. Jy kan altyd daarop staatmaak, en dit raak nie uitgedien nie. En dit bly darem lekker om iets (of iemand) te hê wat sag en bekend voel, nie waar nie?

Vorige artikelSo lyk ware omgee
Volgende artikelOp reis
Blogger - Christa Grobbelaar
Christa Grobbelaar is ‘n mamma van twee volwasse dogters en ‘n juffrou van honderde. Sy en haar man, Willem, is albei onderwysers. Haar onderwysloopbaan het grootliks daaruit bestaan om vir kinders Engels te leer, maar haar graad in Sielkunde het altyd handig te pas gekom. Sy het na ‘n vroeë aftrede vir een semester in Thailand gaan skoolhou en doseer nou deeltyds Afrikaans en Engels vir onderwys- en joernalistiekstudente. In Thailand het sy met ‘n blog begin as teenmiddel teen die verlange na Suid-Afrika, maar geniet dit steeds om met die blog voort te gaan. Dié persoonlike blog, Christastories, is te sien by christainthailand.wordpress.com