Bakhand na bo

‘n Boemelaar of bedelaar, ongeag die vel kleur, loop vir my hand aan hand.  Beide lê my baie na aan die hart.

‘n Mens is geneig om op hulle neer te kyk en so maklik om vir hulle te sê om werk te gaan soek.  Maar veral in vandag se tyd is werk ‘n teer saak. En as jy by hulle op straat verby stap en hulle bakhande uitsteek en sê: “Ag Me help net met ‘n paar sent, ek is honger en het lank laas geëet,” dan is jy sommer op die plek kwaad en ignoreer die hand.

Ek werk in ’n staatshospitaal se apteek. Een van ons aptekers was na die ongevalle afdeling en kom terug met die hartseer nuus van ‘n boemelaar wat deur die ambulans langs die pad op gelaai is die vorige nag. So te sê reeds dood.

Hy was vuil en sy hare so vol van luise dat hulle eers sy hare moes afskeer sodat die dokter hom kon onder soek, maar ongelukkig het *Ronnie dit nie gemaak nie.

Toe ek die naam Ronnie hoor, het ek geweet wie dit was. Hy was ‘n wel gestelde bankbestuurder wat ná ‘n gebroke huwelik dit nie kon verwerk nie en so alles verloor en op straat beland het.

My redenasie is: Wie is ons om die mense op die straat te oordeel? Dis nie te sê dat een van ons nie ook dalk die selfde paadjie kan stap as wat Ronnie en al die ander stap nie. En op die einde van die dag is ons almal bedelaars al is jy nie ‘n boemelaar nie. Want sien, ons staan ook elke dag voor God met ons bakhand na bo en bedel van God. Al is dit net genade, vergifnis of aardse goed. En word ons soms ook kwaad en kom in opstand teen God as ons nie kry wat ons vra nie. Maar God voorsien aan ons sonder enige oordeel of ‘waaroms’ en ‘hoekoms’.

*Skuilnaam

Vorige artikelMevrou Doeminie en die Wroegenaars
Volgende artikel‘n Ander soort skoonheidskompetisie
Blogger - Lalie Kiesling
Ek is 52jr en ek moet sê, ek was nooit op skool goed met opstelle en sulke goed nie. My ma moes maar altyd inspring en help. Maar soos die tyd aangestap het, het ek al hoe meer gedagtes gekry, meestal oor geloof. Ek weet nie of dit ‘n gedagte is of deur die Heilige Gees aan my gegee is om met mense te kan deel nie? Ek het begin om my briefies aan Leef, Finesse en Keur tydskrifte te stuur, want ek wou so graag die gedagtes met iemand deel. Ek weet dat hulle nie altyd jou goed in die tydskrif kan plaas nie, maar ek het darem ‘n paar geskenkies gekry vir die beste brief. Maar dis nie vir my belangrik nie. Net die idee dat iemand dit kan lees en dalk daaruit iets vir hulself kan vat is vir my belangrik.