Baklei oor water

0
454
water

Daar was vandag reeds berigte van mense wat baklei of met mekaar stoei of vuis slaan by waterpunte waar hulle tou gestaan het om water in die hande te kry.

Dit hoef ‘n mens glad nie te verbaas nie. As motorbestuurders dit nie eens kan verdra wanneer iemand voor jou by ‘n kruising in die pad wegtrek nie, hoe kan hulle dit verdra as iemand voor jou indruk om water te kry. En ek probeer glad nie heilig klink nie. Ek sal ook woedend wees as ek hoe lank in ‘n tou staan om water te kry, en iemand kom druk voor my in om water te tap. Of nog erger, die persoon staan met hope kanne om dit een-een vol te maak terwyl ander moet wag om net een enkele houer vol te maak.

Is dit regtig verkeerd om vir so iemand in so ‘n situasie kwaad te word? Natuurlik is dit nie verkeerd om kwaad te word nie!  Dit is die realiteit dat daar dinge gebeur wat ‘n mens kwaad maak. Paulus sê in Efesiërs 4:26 “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie.”

‘n Mens mag kwaad word, maar jy moet jou kwaadword beheer sodat dit jou nie oor die afgrond stoot en jy dan verkeerde dinge doen nie.