Balans is moontlik – by die werk en huis

0
106
balans.jpg

Die grense tussen werk en huis het met die koms van die slimfoon meer vervaag. Ons kan van die huis af werk, maar nou is jy altyd op jou pos. Hoe hou jy alles bymekaar?

Word wakker na ’n nag van rondrol, druk die alarm dood, maak die kinders wakker, sit die ketel aan, neem ’n bad, pak kosblikke, lees epos, groet jou man voor hy werk toe gaan, antwoord epos, laai die kinders by die skool af, maak ’n oproep kantoor toe, kom by die werk aan, luister na die skinderstories van kollegas, antwoord epos terwyl jy eet, woon ’n vergadering by, bel Manlief om die kinders te gaan haal omdat die vergadering te lank aangehou het, antwoord nog epos, ry huis toe, sit kinders in die bed, ontspan vir tien minute …

Klink dit bekend? Dan is jy deel van 80% Suid-Afrikaanse werknemers wat voel dat hulle beroep met hulle privaat lewe inmeng.

Met ’n slimfoon kan jy mos van enige plek in die wêreld jou werk doen. Jy kan jou dag reël en so hou jy almal tevrede. Maar dit wat aanvanklik as ’n oplossing beskou is, het vinnig in ’n kruis ontaard. Navorsing dui aan dat die gemiddelde werksdag van agt na elf ure per dag vermeerder het.

Dus hou jy nou almal tevrede ten koste van jouself. Daar is maniere om weer balans in jou lewe te kry ongeag jou werks- en leef-omstandighede.

Ontlaai eers voor jy energie kan uitdeel

Suzanne Greyling is ’n laerskoolonderwyser: “Een van die redes waarom ek mal is oor my werk is omdat ek die kans het om ’n invloed op mense se lewens te hê. Soms is dit egter emosioneel dreinerend en teen die tyd wat ek by die huis kom, is ek te moeg om aan my eie gesin die aandag te gee. Om nie eers van myself te praat nie.”

ONS GEE RAAD
’n Werk/leef-balans gaan daaroor of daar ’n balans tussen jou uiterlike en innerlike wêreld is. Gee jy genoeg aandag aan jouself ook?

“Dis belangrik om genoeg positiewe denke en energie te hê, anders gaan jy uitbrand. Wanneer jy voel dat jou werk ’n dieper doel het soos om mense se lewens te verander, help dit veral om positief te wees,” glo Gerhard Schröder, ’n bedryfsielkundige en bestuurskonsultant.

[pagebreak] “Dit kom daarop neer of jy genoeg me time het,” verduidelik Gerhard en stelvoor dat jy begin om aktiwiteite wat vir jou belangrik is in jou skedule te bou. Selfs al staan jy net ’n uur per week aan ’n stokperdjie af.

Of gebruik ten minste net vyftien minute per dag vir jouself. Neem ’n bad, lees ’n liefdesroman, gaan stap ’n entjie of luister musiek.

Bestuur jou aandag, nie jou tyd nie

“Omdat ek van my huis af werk, beteken dit allermins dat ek niks doen nie. Ek probeer multi-task, maar kry dit eintlik nie reg nie. Dit voel dikwels aan die einde van die dag of ek net mooi niks gedoen het nie,” vertel Ilse Scheepers, ’n entrepreneur.

ONS GEE RAAD
Multi-task is ’n mite,” sê Gerhard. “Al wat gebeur is dat jou brein baie vinnig van een taak na die volgende beweeg. Dit veroorsaak addisionele spanning en maak jou minder produktief. Vir beter balans moet jy jou aandag bestuur, nie jou tyd nie.”

Ons kies gewoonlik om dit te doen wat lekker of noodsaaklik is, maar ware prioriteite val miskien nie in een van daardie kategorieë nie. Prioriteite is daardie groot einddoel wat jy in jou werk en lewe wil bereik.

Verder moet jy onderskei tussen dit wat dringend en dit wat belangrik is. Belangrike take val binne die groter visie van jou lewe en moet afgehandel word, indien nie onmiddellik nie, een of ander tyd. Dringende take is tydsensitief, maar nie noodwendig noodsaaklik vir jou groter doelwitte nie. Dit kan byvoorbeeld dringend wees dat jy jou elektrisiteitsrekening betaal, maar nie belangrik binne jou groter prioriteite nie.

As jy steeds sukkel om te onderskei, kan jy jouself die volgende vra: “As ek net een ding vandag afhandel, wat moet dit wees?”

Benewens aandagbestuur voel Gerhard dat die instel van struktuur deur die dag baie belangrik. “Binne die harwar van take kan die eenvoudigste roetine vrede in jou gemoed bring. Verdeel jou dag tussen die verskillende take op vaste tye wat jou die beste pas. Doen jou administrasie wat gewoonlik dringend is, maar nie belangrik nie, vir ’n uur in die oggend. Wanneer dit afgehandel is, kan jy jou vir die res van die dag toespits op die belangrikste prioriteite in jou lewe.”

[pagebreak]

Jou telefoon hóéf nie altyd aan te wees nie

Marida Botha is ’n joernalis. “By koerante gaan dit om spertye. Vir ons redakteur is dit belangriker dat ’n joernalis se werk betyds is as hoe en wanneer dit gedoen word. Solank ons net met saktyd op kantoor is. Hierdie reëling pas my, want nou het ek meer beheer oor my privaat lewe en kan ek beter skryf in ’n stil omgewing. Maar soms, veral oor naweke, voel ek egter verplig om heeltyd op bystand te wees terwyl dit nie regtig deel van my kontrak is nie. Hoe skakel ek af?”

ONS GEE RAAD
“Die grootste enkele rede waarom die werk/leef-balans die laaste paar jaar in gedrang gekom het,” verduidelik Gerhard, “is omdat ons 24/7 tegnologies verbind is.”

“Jy moet die grense stel en ander laat verstaan dat hulle nie inbreek kan maak op die tyd saam met jou gesin nie. As ’n vriendin of jou baas jou op die onmoontlikste tye bel oor iets wat nie regtig ’n noodgeval is nie, kan jy hulle duidelik laat verstaan dat jy so gou moontlik die volgende dag daaraan sal aandag gee. So stel jy op ’n subtiele manier die grense van wanneer jy gekontak kan word.”

Kry twee telefone – ’n werksfoon en privaat foon waarvan net jou naaste familie die nommer het. Sit die werksfoon af, anders gaan jy nooit ontspan nie. In sulke tye kan jou familie jou op die ander foon bel.

Hou op om ander tevrede te probeer stel

Christine Gouws, bemarkingsbestuurder, glo dat dit juis haar bestuursposisie is wat dit vir haar moeilik maak om haar werk by die huis te los. “Ek voel ek word betaal om na-uurs te werk en altyd beskikbaar te wees. Sedert ek hierdie posisie beklee, was ek nog nooit weer in ’n romantiese verhouding nie. Daar is bloot nie tyd nie, want sodra ek na ’n lang dag by die huis kom, gebruik ek ’n uur om te eet en te ontspan en dan begin ek weer werk tot slapenstyd. Waar moet ek die streep trek?”

ONS GEE RAAD
“Hierdie konstante gevoel van uitbranding wat Christine ervaar, is baie gevaarlik,” vertel Gerhard. “Geestesgesondheid word beïnvloed deur vier faktore: gene, trauma, persoonlike probleme en al hoe meer deur spanning by die werk. Baie mense ervaar werkstres omdat ’n ‘harde werker’ die norm vir ’n suksesvolle werker is.”

Nou en dan moet ’n mens terugstaan en die groter prentjie raaksien. Is daar nie mense na wie jy van jou take kan delegeer nie? Begin om jou kollegas te vertrou; jy is net so goed soos die mense wat onder jou werk.