Balanseer jou hart

Ek sit hier en wonder of ek ‘n glas suurlemoen water moet drink, want ek het immers WEER begin met ‘n gesond-eet-meer-oefen-maandag, en of ek net ‘n plein vat-hom-soos-ek-dit-sê dubbel vodka moet kies. Op eish.

My rede? Pappa Rosekrans is oorsee. Vir werk. Dit lyk baie lekkerder as werk, maar dit is vir werk. Belowe. (Probeer ek julle oortuig of myself wat drie jaar laas op ‘n vakansie-vakansie was?)

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek gun dit vir hom oor en oor, want ek glo deur te reis maak van jou slimmer, meer wêreldwys, en staar jy nie net vas in die ‘klein’ om jou.  Jou horisonne verbreed, jou perspektief verdiep, jou uitkyk kring weier (jou vrou raak kwaaier… grappie).

Dit is nie vir almal beskore nie, daarom weet ek hoe baie dit vir hom ook beteken. Daar is drie dae van die twaalf verby en ek kan nie help om te wonder hoe enkelouers dit doen nie. Daar is ‘n rede hoekom jy twee in hierdie span van kinders-grootmaak moet wees.

Moenie dat die blou ogies en blonde hare van my twee kleuters jou flous nie.  Hulle roer jou hartsnare maar koer ook jou uhm humeur… Ek weet hulle gaan dit nog ver bring, en ek bid dit vir hulle toe.

Hulle wil is sterker as Simson van ouds. Aanvaar nie sommer vir ‘sommer’ as ‘n antwoord nie. Sê ewe: Dit is nie ‘n rede nie. Ten minste luister hulle soms wat jy probeer leer.  So besluit ek om die ‘treadmill’ te gaan haal in die agterste (stoor)kamer van die huis want dit breek jou moed, jou spoed, jou siel om daar alleen soos ‘n luiperd te draf en dan nog boonop na ‘n  muur met ‘n spieël op te staar.

Voor die televisie sal ons stap, of stap-draf. Breek amper my been om die ding uit die kamer te kry, maar uiteindelik, op sy nuwe plek. Die wit olifant raak ewe skielik ‘n swart hings. My poging tot meer oefen na my dubbele artroskopie operasie slaag nie. DIE KINDERS DINK DIS ‘N HINDERNIS BAAN. Groot fout. Gedink ek kan ‘n paar vetjies afskud voor die winter regtig hier is, toe was dit net die stof van die treadmill wat afgeskud was.

‘n Tydperk wat jou dwing om alleen by jou kinders te wees leer jou meer van hulle en meer van jouself.  Jy tik jouself baie oor die vingers, glo my. Jy hoor meer goedjies wat hulle kwytraak, jy sien die trane en jy hoor die blydskap.  Jullle ‘bond’. Jy besef dat alles eintlik tweede kom, of tweede behoort te kom. Die tyd wat hulle so klein en weerloos en totaal van jou afhanklik is is so kort.  Hulle is geskenke van God, sowaar. In ons sorg geplaas om groot te maak. Moenie jouself verloor in die proses van ouer wees nie, jy en jou man was eerste daar, maar oppas dat jy jou kinders hul sekuriteit laat verloor.

Jy is hulle sekuriteit. Jy wou hulle gehad het. Moet nooit dat hulle eendag grootmense raak en jou blameer vir hul onsekerhede en ‘self worth’ nie.  Kinders grootmaak is daadwerklik nie vir sissies nie.  Hoe sou jou lewe sonder hulle wees? Vind die balans tussen die grootste balle van die lewe, kind, man, werk en om nie jouself as mens te verloor nie. Jy moet alles in die lug hou.

Die Here hoor jou hart sonder dat jy ‘n woord sê. Soos iemand hierdie week vir my sê. Moedelose jy wat probeer bid. Sy val in die bed aan die einde van die dag en al wat sy sê is: “Ag Here, nag Here”.  Ons Pappa kom vars en vrolik, dalk ‘n kilogram of twee swaarder terug van sy twaalf dae trippie en ons sal hom met ope arms en groot glimlagte ontvang.  “Absence really does make the heart grow fonder”.

Ek los maar vir ‘treadmill’ voor die televisie. Vir Pappa (knipoog)