Bang? Vir wat?

Ek het nog nie ‘n bul van enige beesras gesien wat nie permanent met daardie kenmerkende ek-vat-nie-nonsies-nie uitdrukking op sy gesig rondloop nie.

As jy nie weet hoe ‘n bul lyk nie, dan soek jy net die een in die trop wat die mees befoeterdse lyk – dís die bul. Vir die koeie kan jy nog Blommetjie of Hendriena noem, maar die bul bly net die bul.

Sou die bul enigsins vermoed dat jy oor sy erns twyfel, sal hy sy kop effe laat saak, jou vierkant in die oë staar, met die voorpoot oor die grond krap en die stof hoog bokant sy rug die lug laat uitstyg. Alle twyfel is dan uit die weg geruim – jy sit nie jou voet in dieselfde kamp as waarin hy loop nie.

My Pa het op ‘n stadium ‘n Herefordbul op die plaas gehad. So rooibruin van kleur met ‘n wit kop en bors. Altyd trots en breëbors gestap met die wete niks of niemand lol met hom nie.

My ouer nefie het maar nog altyd ‘n avontuurlistige geaardheid gehad. Terwyl die Herefordbul eendag op sy statige wandeling verby die skuur oppad na die aangrensende stukkie veld geloop het, het my nefie van agter aangehardloop gekom en op die bul se rug gespring. Ons het die ergste verwag. Daar stap die bul toe ewe rustig verder asof hy van niemand op sy rug bewus is nie. My nefie se vriend het ook opgespring sonder dat die bul ‘n oog geknip het.

Dit het net my nefie se dapper, of avontuurlistige, optrede geverg om almal se persepsie oor dié bul te verander.

Amper soos ‘n Dawid en Goliat storie – daardie omstandighede waarin ons ons soms bevind wat só oorweldigend voorkom. Die ontmoontlike…dink ons.

Die taktiek van die vyand is natuurlik om vrees in te boesem sodat ek nie in staat is om in oorwinning te lewe nie. Dalk steek ons vas by 1 Petrus 5:8, dat die vyand soos ‘n brullende leeu rondloop en kyk wie hy kan verslind.

Ons vergeet hy klink maar net soos ‘n leeu, hy is nie die ware Jakob nie. Dalk moet ons darem net ook Openbaring 5:5 lees wat sê dat Jesus die leeu van Juda is. Hy is dus die regte leeu en met hom aan my kant is ek in alles in staat deur Hom wat my krag gee (Fil 4:13).

Vrees stop geloof van sy krag en werking in ons lewens. Vrees dat ek nie gesond gaan word nie, dat ek nie werk gaan kry nie, dat ek finansieël nie die mas gaan opkom nie, dat politieke omstandighede nie gaan verbeter nie, dat verhoudings nie gaan heel nie, dat ek nie my roeping gaan vervul nie.

Geloof is nie gesetel in my eie vermoë om die vyand aan te vat en my vrees te oorwin nie. Geloof kom deur die Woord te hoor (Rom 10:17) en daarvolgens op te tree. Ons gaan derhalwe nie by die punt verby kan beweeg as ons kennis van die Woord nie. Indien ons bewus is van die Vader se wil, kan ons daarvolgens optree (Rom 1:17).

Geloof is egter nie net vir eenmalige gebruik nie, ek moet geloof lewendig hou – daagliks. Geloof word lewendig gehou deur dit te spreek. My situasie moet in lyn kom met my verklaring.

Geloof is ‘n spier wat deur volharding (Jak 1: 2-4) geoefen word sodat ek sterk is vir elke aanslag van die vyand. Volharding vereis ‘n daaglikse besluit. Wees konstant en moenie toelaat dat die vyand jou geluk kom steel en vernietig deur twyfel in jou gemoed te saai nie.