Barensnood op wiele

Toyota

Vriende, uit die titel kan julle aflei hierdie storie het ‘n effense ouderdomsbeperking en ‘n waarskuwing: nie vir sensitiewe lesers nie en veral nie vir diegene wat nog eendag geboorte moet skenk nie!

Ek is altyd baie benoud om van ander mense se grootse gebeure te vertel, want ‘n mens moet dit met groot respek en deernis doen, sonder om jou eie emosies daarby te meng.  Ek het darem die ma en trotse ouma se toestemming gekry, maar dit gaan sukkel om objektief te bly oor hierdie epiese bevalling.

Terwyl Kapenaars in Durbanville Maandagmiddag in spitsverkeer vasgesit het weens padwerke, het my skoolvriendin geboorte gegee aan ‘n pragtige babadogtertjie.  Nie in die luukse hospitaal waar haar induksie die komende Donderdag geskeduleer was nie, en ook nie eens by die naaste kliniek waarheen hulle reeds begin jaag het nie.

In spitstydverkeer vorder hulle kruipend en eindelik ry hulle hulself vas teen die padwerke.  Haar man smeek nog die verkeersmense om verby te kom.  Soos iets uit ‘n riller/komedie: “ laat my verbyjaag, want my vrou is in kraam!” Maar selfs al sou hulle kon deurkom, is dit te laat – die nuweling het reeds gearriveer op die agterste sitplek van ‘n Toyota bakkie!  ‘n Tawwe dogtertjie van ‘n elektriese ingenieur ma.

Haar water het tuis gebreek en sy, haar man en hulle huishulp het net ‘n paar handoeke gegryp en gevlug.  Haar man is agter die stuur.  Wat nie alles deur sy kop moes gaan nie!  Hy weet net die naelstring moet net nie om die nek trek nie, maar hulle arme huishulp kan van voor af skaars bykom en sy besef sy het nooit eens hande gewas nie!

Die baba was ‘n week laat, maar toe sy uiteindelik kom, was dit met mening! Gelukkig was die dapper moeder se twee vertrouelinge by haar en het alles baie goed afgeloop.

Ek het ook ‘n stortkraam beleef met my tweede seuntjie, maar ek was minstens al in die hospitaal by die nagsuster– anders was ek nog ‘n Toyota SA statistiek! Niemand kan die doodsvrees en paniek beskryf nie, maar dit gebeur teen so ‘n geweldige spoed dat tyd letterlik gaan stilstaan en jy die adrenalien deur jou voel bruis.  My man het nog nooit so gejaag nie, maar 15 minute was te lank om voor ons nuweling op die toneel te kom. ‘n Mens onthou so ‘n gebeurtenis tot in die fynste besonderhede vir die res van jou lewe.

Ek voel skoon trots op ons plaasmeisies van Lutzville!  Wat ‘n sterk generasie vroue het ons VLV ma’s nie voortgebring nie!  Maar ek besef ook dit is maar net genade.  Lewe begin en eindig skreeuend of sag, in sagte bedlinne of plastiek bakkiebekleedsels en dit is nie deur ons krag, gesondheid, kennis of wilskrag nie.  Hy bepaal die tyd, plek en alles rondom ons.

Baie geluk aan die hele familie.  Hierdie dogtertjie het ‘n naelskou eerste hoofstuk geskryf.  Mag die res van haar storie ‘n pragtige Afrika sprokie wees.