Basta met ander, dis jý wat tel!

0
100
wat_jy_wil_he.jpg

Jy is altyd die voorbeeldige Marta wat almal om jou tevrede wil stel. Maar wie gaan jou skoene volstaan as jy te sielsmoeg is? Dit het tyd geword om eerste aan jouself te dink.

Sorg heel eerste vir jouself en dan vir ander

As Manlief saans tuiskom, kan jy nie gou genoeg spring om ’n lekker bord kos aan te dra nie. Maar toe jy siek was, moes jy hom omtrent smeek vir ’n koppie tee. Hy het darem op ’n manier kos gemaak – en al die skottelgoed net so vir jou gelos.

Die lewe werk soos die suurstofmasker in ’n vliegtuig. As daar ’n noodgeval is, moet jy heel eerste jou eie masker opsit. As jy nie kan asemhaal nie, kan jy mos niemand anders help nie. Daarom moet jy jou eie behoeftes eerste stel, anders word jy ’n moeë, tam vrou wat geen lewensvreugde meer oorhet om iets lafs saam met die gesin te doen of geduldig na ’n vriendin se probleem te luister nie.

So, tap ’n skuimbad in, lees jou gunstelingtydskrif of gaan werk in die tuin. Herlaai met enigiets wat vir jóú lekker is.

Maak klaar met jou verlede en laat dit agter

Niks trek jou so af soos wanneer jy gebeure of persone uit jou verlede blameer vir die omstandighede waarin jy nou is nie. Glo eerder dat jy dit kan verander. Dink so daaraan: Jou oë sit voor in jou kop; daarom kan jy nie terselfdertyd vorentoe en agtertoe kyk nie.

Jy los egter nie net eensklaps jou verlede nie, dis ’n voortdurende proses. Jy laat gister agter die oomblik dat jy met vandag begin. Soos jy in môre inbeweeg, laat jy vandag agter, wat nou jou gister geword het.

Maak jou los van wat agter is en strek jou uit na wat voor is, soos Paulus. Al het iemand jou hóé seergemaak, vergewe die persoon daarvoor, anders beïnvloed hy of sy ook jou lewe vorentoe. Klim uit die boot en begin stap terwyl jy vorentoe kyk. Jy weet mos dat jy nie sal sink as jy maar net ten volle vertrou nie.

Kruip uit jou dop en wees wie jy is

Dit put jou uit om altyd te wonder wat die mense sal sê as jy daardie bloedrooi rok aantrek, jou toonnaels pers verf of openlik erken dat jy nie van slaai hou nie. En jy is nou net mooi keelvol daarvoor dat jou skoonma so ’n houvas op jou het. Na al die jare probeer sy steeds met jou huishouding inmeng.

Dink ’n bietjie hoe God jou sien en of dit dieselfde prentjie is as wat jy van jouself het. Jou identiteit is in Hom – nie in wat iemand anders van jou sê of dink nie. So, trek jou skouers agtertoe, kyk die wêreld vierkantig in die oë en sê: Tot hiertoe en nie verder nie. Van nou af gaan ek myself wees – take it or leave it!

Glo dat jy ’n waardevolle vrou is en sê dit dan vir jouself. ’n Honderd maal op ’n dag as dit moet.

Vertaal en verwerk uit Deana Murphy se Believe in yourself.