Basta met Nuwejaarsvoornemens! Stel doelwitte op!

Ons is in die laaste pylvak van 2018. Die Nuwejaar wag vir ons sodra ons al die groot eet en kuier van Kersfees agter die blad het. Ek hoor hoe baie mense praat van hul Nuwejaarsvoornemens.

Ek weet nie of dit so ‘n goeie ding is nie. Klink vir my altyd asof almal verwag dat op 1 Januarie al hul slegte gewoontes, verslawings, probleme en buie sommer vanself gaan verdwyn en dan gaan hulle oornag maerder, fikser, flukser en gesonder wees.

Die Nuwejaar gaan vir jou geen goeie veranderings bring as jy jou Nuwejaarsvoornemens opstel soos ‘n wenslysie nie. Dan gaan dit net voornemens bly. Drome wat uiteindelik saam met die realiteit van die lewe in die niet gaan verdwyn… tot die laaste twee weke van Desember volgende jaar…

As jy regtig iets aan jouself of jou omstandighede wil verander, moet jy doelwitte stel met tydsgleuwe en stappe om dit te bereik. Terwyl ons nou so ‘n sportmal nasie is, hoef jy net SPORT te onthou in die proses.

Dit staan vir:

Spesifiek: Stel jou doelwitte baie spesifiek op.

Positief: Skryf jou doelwitte neer op ‘n positiewe manier. Bv. Ek gaan ‘n gesonde, gebalanseerde dieet volg, eerder as, ek gaan nie meer roomys eet nie.

Opmerk (waarneem): Probeer om in jou doelstelling ‘n beskrywing van ‘n gedragsverandering in te sluit wat jy kan  waarneem. As jy byvoorbeeld gewig wil verloor, neem jou mates gereeld en neem voor en na foto’s sodat jy jou vordering kan sien.

Realisties: Maak jou doelwitte realisties bereikbaar en duidelik. Fokus op doelwitte wat binne jou bereik is en wat eerder van jouself, as van ander mense afhang.

Tyd:  Stel vir jou ‘n tydskedule op om jou gefokus te hou in die navolging van jou doelwit. Minder praat en meer doen!

Mag jy ‘n Geseënde Kersfees hê en mag jy jou drome deur doelbewuste besluite en goeie keuses in 2019 bereik.