Bederf – uit my hoek

Wat is bederf nou eintlik? Die woordeboek sê dit is waardeloos, onbruikbaar, sleg, beskadig of as werkwoord beteken dit om die genot weg te neem.

Dan gee hulle ook die betekenis aan as stout maak deur verkeerde opvoeding en natuurlik ondergang, ontbinding, verrotting en agteruitgang – dit lyk maar vir my redelik negatief. Meestal gebruik ek die woord in ‘n positiewe sin – jammer, woordeboekmakers! Selfs as ek my kinders en kleinsussies as “bedorwe brokkies” beskryf, bedoel ek dit nie negatief nie, sekerlik omdat ‘n baie groot deel van hulle bedorwenheid deur my toedoen gebeur het!

Vandag het ek dit oor ‘n bederf-plek in my dorp, en die feit dat “bederf” blykbaar ‘n baie relatiewe begrip is.

Die plek lyk nie juis aanloklik van buite af nie. Die stegie langsaan skreeu behoorlik: “Bly weg! Klou jou handsak vas! Hardloop!” Die straat self is ‘n  netwerk van die allervreeslikste slaggate, en dikwels nie van die skoonste nie. Maar tog … die kos! Dit is baie lekkerder as al die wegneem-etes wat ek al ooit by enige ander winkel gekoop het. Dis nie “fast food” nie – alles behalwe. Ek wag gewoonlik ‘n hele rukkie vir my bestelling. Omdat die omgewing maar bietjie verdag is, wil ek nie in die motor wag nie. Ek sit dus binne, in die restaurant-deel van die winkel: dit is ook nou nie juis ‘n restaurant wat ‘n mens lus maak om daar aan te sit en by kerslig te “wine and dine” nie. Plastiek-tafeldoeke en kunsblommetjies kikker dit op, en die groot TV is altyd op ‘n Arabiese kanaal.

Die eienaar kan nie juis goed Engels praat nie, maar hy kan breed glimlag en dra altyd sy silwerskoon “Proudly South African” voorskoot met trots. (En dankie tog, hy verstaan van “Spicy, but not hot!”) Gewoonlik is daar klante wat sit en eet, maar hulle lyftaal sê baie duidelik dat hulle eet omdat hulle moet, nie omdat hulle besig is om hulleself te trakteer nie.

Ek dink ek kry spesiale behandeling – ek glo nie baie Afrikaans-sprekendes val daar in om wegneemkos te bestel nie. Die feit dat ek in Afrikaans groet, in Engels bestel maar darem ‘n “kanalla”  vir “asseblief” bysit, dan “shukran” sê as my kos kom, en “salaam” as ek loop, help ‘n bietjie. Hulle naan-brode en roti’s is hemels – selfs as ek tuis my eie Tikka-hoender of lamskerrie maak, smaak dit lekkerder met “my” Asian cuisine  winkel se brood om die sousies op te suig!

Dit is mos eintlik my punt. Vir mý is hierdie kos ‘n groot bederf, maar vir die mense wat duidelik in die omgewing werk en gerieflikheidshalwe daar eet, is dit maar net kos. Baie mense sal juis oor die wagtydjie kla, en liewer wegbly. Die feit dat ek moet wag, stel my gerus, want ek weet my kossies word nou spesiaal vir my gemaak, en nie net vinnig warm gemaak of in kokende olie gedompel nie.  Vir my is die plek en die kos ‘n lekkerte, baie van my vriende sal nie dood daar gevang wil word nie!

Dit bring my terug by my punt oor bederf: wat is dit nou eintlik? Goed of sleg? Lekker of vrot? Kosbaar of waardeloos? Gevolgtrekking – soos die meeste ander dinge, hang dit net af van die hoek waaruit jy daarna kyk!

Vorige artikelMevrou Doeminie en die haatpraters
Volgende artikelBewapen jouself
Blogger - Christa Grobbelaar
Christa Grobbelaar is ‘n mamma van twee volwasse dogters en ‘n juffrou van honderde. Sy en haar man, Willem, is albei onderwysers. Haar onderwysloopbaan het grootliks daaruit bestaan om vir kinders Engels te leer, maar haar graad in Sielkunde het altyd handig te pas gekom. Sy het na ‘n vroeë aftrede vir een semester in Thailand gaan skoolhou en doseer nou deeltyds Afrikaans en Engels vir onderwys- en joernalistiekstudente. In Thailand het sy met ‘n blog begin as teenmiddel teen die verlange na Suid-Afrika, maar geniet dit steeds om met die blog voort te gaan. Dié persoonlike blog, Christastories, is te sien by christainthailand.wordpress.com