Beeslenderol met Yorkshire-poedinkies en rooiwynsous

0
229

’n Warm beesrol en poedinkies is presies die regte ding vir die aankomende winter. Dis heerlik én maklik met hierdie resep.

Genoeg vir 4
Tyd: 2½ uur

BESTANDDELE
1,5 kg beeslenderol (sirloin)
sout en varsgemaalde swartpeper, na smaak
30 ml mosterdpoeier
20 piekeluitjies, geskil
125 ml olyf- of avokado-olie
45 ml verdikte balsemiekasyn  
300 ml hoenderaftreksel

Yorkshire-poedinkies
120 g koekmeel, gesif
knypie sout
2 groot eiers, liggies geklits
300 ml melk

Sous
15 ml koekmeel
250 ml rooiwyn
250 ml biefaftreksel
sap van 1 suurlemoen

METODE
1 Stel die oond op 230 °C.
2 Geur die beesvleis en vryf goed in met die mosterdpoeier.
3 Plaas die vleis in ’n oondbraaipan en rooster vir ongeveer 30 minute.
4 Voeg die uie by en giet die olie, asyn en aftreksel bo-oor. Verminder die hitte tot 180 °C en hou aan gaarmaak tot die vleis gaar genoeg na smaak is, ongeveer 15 minute per 500 gram vir halfgaar (medium rare).
5 Die poedinkies: Meng die meel en sout in ’n plat bak. Maak ’n holte in die middel en voeg die eiers by. Roer die melk in en meng geleidelik tot ’n gladde beslag. Giet die beslag in ’n beker en laat eenkant staan.
6 Haal die vleis uit die oond, bedek met foelie en laat minstens 30 minute staan.
7 Verhoog die oondtemperatuur tot 200 °C en gooi ’n bietjie van die vleissap in die holtes van ’n muffinpan met 12 holtes. Plaas in die oond en verhit ongeveer 5 minute. Haal die pan uit die oond, giet die beslag in die holtes en bak tot goudbruin, gepof en bros, ongeveer 20 minute.
8 Die sous: Gooi die vleissap in ’n klein kastrolletjie, maar hou ongeveer 15 ml oor. Voeg die meel by en laat kook ongeveer ’n minuut terwyl jy aanhoudend roer. Voeg die rooiwyn by en laat kook tot ongeveer die helfte weggekook het. Voeg die aftreksel en suurlemoensap by en laat prut tot die sous effens verdik het. Gooi in ’n souspotjie.
9 Sny die vleis in skywe en sit warm voor met die uie, sous en Yorkshire-poedinkies.
 

DEEL
Vorige artikelSlaap
Volgende artikelOm van opinie te verander
Voelgoed
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.