Begrafnisreëlings: Weet wat is wat

0
33
begrafnis.jpg

Iemand het gesterf en jy moet begrafnis reël. Hier is ’n praktiese gids oor wat jy moet weet en doen.

Dit sal ’n baie moeilike tyd wees, maar daar is sekere dinge wat jy sal moet doen direk nadat die persoon oorlede is. Hierdie punte sal jou help om die wetlike en finansiële sy van dié hartseer tyd te hanteer.

Wat om te doen direk na afsterwe

Die eerste ding wat jy moet doen, is om ’n mediese sertifikaat te bekom. Die Bl-1663 mediese sertifikaat is ’n kennisgewing van afsterwe, maar is nie die doodsertifikaat nie.

  • As iemand in ’n hospitaal aan natuurlike oorsake sterf, sal die dokter die kennis van afsterwe uitreik. Sommige hospitale het nie hulle eie lykshuise nie. In daardie geval moet ’n begrafnisondernemer dadelik gekontak word om die liggaam te verwyder.
  • As iemand in ’n hospitaal aan onnatuurlike oorsake sterf, sal die liggaam oorgeplaas word na ’n staatslykhuis, waar ’n lykskouing gedoen sal word.
  • As dit by die huis aan natuurlike oorsake gebeur, bel dadelik die dokter. Enige dokter kan ’n kennis van afsterwe uitreik solank hy seker is wat die oorsaak van die dood was. Indien die dokter onseker is, kan ’n begrafnisondernemer ’n private lykskouing reël.
  • As iemand by die huis aan onnatuurlike oorsake sterf, bel dadelik die polisie. Hulle sal reël dat die liggaam na ’n lykshuis verwyder word, wat die kennisgewing van dood sal uitreik. In al die bogenoemde gevalle moet die liggaam eers deur ’n familielid of vriend uitgeken word voor die kennisgewing uitgereik kan word.

Wat is die beste: begrafnispolisse of lewensversekering?

Beide die begrafnispolis en die lewensversekering betaal uit as iemand sterf, solank jy jou premies getrou betaal het. Begrafnispolisse word uitgeneem met die doel om vir die begrafnis te betaal. ’n Begrafnis in Suid-Afrika kan tussen R7 500 en R20 000 kos. Na gelang van die polis wat jy kies, kan jy ook vir die begrafnis van geliefdes voorsiening maak. ’n Begrafnispolis betaal gewoonlik 24 uur na die persoon se dood uit, sê Cheney Scheepers, ’n finansiële adviseur by Liberty. Jy moet dikwels van 7 tot 60 dae wag vir die uitbetaling van lewensversekering.

Natuurlik beloop lewensversekering oor die algemeen ’n groter bedrag as begrafnispolisse. Jy moet egter mediese toetse ondergaan voordat jy goedgekeur kan word vir lewensversekering. Jy kan ook vir ’n geliefde lewensversekering uitneem, maar hulle moet nogtans die toetse ondergaan. Daar is sekere omstandighede waaronder lewensversekering nie sal uitbetaal nie. Cheney vertel van ’n man wat in ’n ongeluk dood is waar hy dronk bestuur het. Aangesien hy dood is omdat hy die wet oortree het, het sy lewensversekering nie uitbetaal nie.

Wees ook bedag daarop dat jy alle mediese toestande moet verklaar as jy lewensversekering uitneem. As jy uiteindelik sterf aan ’n toestand wat jy gehad het toe jy die polis uitgeneem het en dit nie verklaar het nie, sal dit ook nie uitbetaal word nie. Dit is onnodig om beide ’n begrafnispolis en lewensversekering uit te neem. As jy die regte lewensversekeringspolis kies, kan dit vir die begrafnis ook betaal. Sommige polisse, soos dié van Liberty, betaal ’n gedeelte van die geld na 24 uur uit.

Hoe reël jy ’n begrafnis?

Die oorledene mag dalk instruksies gelos het vir hulle begrafnis. Dis nie vreemd dat as mense voel hulle einde kom nader, hulle oor dié tipe goed begin dink nie. As hulle nie het nie, is dit jou keuse.

Die eerste stap is om julle predikant te kontak, wat jou leiding kan gee met die begrafnis. Daarna moet jy ’n begrafnisondernemer kies. Dit is ’n baie moeilike tyd, so, miskien sal dit help om voor die tyd na die verskillende opsies te kyk. Jy sal dan ’n beter idee hê hoeveel jy moet betaal. Indien jy ’n polis het, sal ’n som geld aan jou uitbetaal word, en kan jy kies watter ondernemer jy gaan gebruik.

’n Goeie begrafnisondernemer sal feitlik alle aspekte van die reëlings hanteer, wat dit baie makliker vir jou sal maak. Jy kan verwag dat die begrafnisondernemer die kis, begraafplaas of verassing, die blomme, programme en die spyseniering sal reël. Dit hang alles af van die pakket wat jy kies. Jy moet hierdie dokumente saamneem as jy na die begrafnisondernemer toe gaan:

  • ID-dokument van die oorledene
  • ID-dokument van hulle naaste familielid (joune as dit jy is)
  • Kennisgewing van afsterwe
  • Klere om vir die oorledene aan te trek
  • ’n Foto van die oorledene vir die program

Wat om te doen ná die begrafnis

Ná die begrafnis moet jy die amptelike doodsertifikaat bekom. Dié sertifikaat is nodig om iemand se boedel en testament af te handel. Dit word deur Binnelandse Sake gedoen. Jy doen aansoek vir ’n doodsertifikaat by enige kantoor met die kennisgewing van afsterwe. Die ondernemer kan dit ook vir jou doen teen ʼn ekstra koste. Jy kry die sertifikaat nog dieselfde dag as wat die dood geregistreer is. Sorg dat jy ’n hele paar afskrifte het, want baie instansies vereis dit na die tyd.

Hoe beter voorbereid jy is, hoe makliker sal dit vir jou en jou geliefdes wees om ’n sterfgeval te hanteer.