Begroot, leef skuldvry en word ryk

0
278
adele_du_plessis.jpg

Adele du Plessis, die uitvoerende hoof van kommunikasie by Revlon, reken welvaart gaan oor meer as net finansies. Jy moet ook iets teruggee.

Ek het my eerste lewensles oor geld geleer van…

My ouma. Sy het ʼn koevertsisteem gebruik om haar maandelikse inkopies mee te beheer. Op elke koevert is daar geskryf waarvoor daardie geld bedoel was. Ek het haar selfdissipline so beny. As die koevert gemerk was vir brood was dit uitsluitlik vir brood. Sy het nooit geld van een koevert na ʼn ander een verskuif nie. Dit was vir my ʼn groot les in hoe om te begroot.

Ek het my eerste sakgeld gekry…

Op die ouderdom van 13. Die meeste daarvan is uitgegee op Jelly Babies – ek vrek tot vandag toe nog daaroor. Die res het ek gebruik as omkoopgeld! Ek het ons huishulp ekstra geld betaal om my kaste skoon en netjies te hou. Die lewensles wat ek daaruit geleer het – om te delegeer!

Die eerste salaris wat ek ontvang het…

Was ʼn somtotaal van R800! Dit was darem lank terug – in1982. Ek het egter toe reeds ʼn absolute obsessie ontwikkel om skuldvry te leef. Ek het die oomblik toe ek genoeg bates bymekaar gemaak het om my toekoms te verseker, begin om daardie doelwit na te streef. Nou koop ek net iets as ek genoeg geld het daarvoor.

Wat ek hoop my dogter by my leer oor geld is…

Dat welvaart soveel meer is as net selfverryking deur geld. Vir my beteken dit om genoeg te besit om die lewe vir ander mense ook beter te kan maak. Ek het al verskeie vriendinne aan kanker verloor en daarom is ek passievol oor die Cancer.vive Ride en die doelwitte wat die organisasie nastreef. Ons ry jaarliks bykans 2600km deur die land op motorfietse om mense oor kanker op te voed en in te lig. Vir my is die sielsverrykend.

Ek het my loopbaan begin as ʼn…

Skakelbeampte vir die Pick ’n Pay Hipermark in Bloemfontein en daarop gebou met ʼn baie eenvoudige benadering. As daar iets van jou gevra word – doen altyd meer as wat van jou verwag word . Van daar het ek na Sun International oorbeweeg en toe Revlon. Deesdae het ek my eie kommunikasie agentskap – Just Imagine, en Revlon as my grootste kliënt behou. Dit het my toegelaat om my besigheid te groei en nuwe uitdagings aan te pak

In die korporatiewe wêreld het ek gou geleer dat…

Effektiewe beplanning, vooruitsig en begroting ʼn baie suksesvolle finansiële resep kan wees. Ons eie lewens is soos ʼn miniatuur weergawe van die korporatiewe struktuur. Diversiteit is vir my van uiterste belang om myself te inspireer en te stimuleer sodat ek op alle vlakke optimaal kan funksioneer. ‘n Mens is ‘n multi-dimensionele wese en as sulks is dit noodsaaklik om dit wat goed is vir die siel toe te pas op alle vlakke, so kan jy ʼn positiewe uitwerking op jou persoonlike welvaart hê.

As ʼn enkellopende vrou het ek …

Reeds op ʼn jong ouderdom besef dat ek nooit afhanklik van ʼn ander persoon wou wees nie. Ek het nie groot geword in ʼn omgewing waar ek gementor is oor geld of enige waardevolle ekonomiese wyshede geleer het nie. Ek het vroeg besef dat goeie ou “common sense” al is wat ek nodig het. As jy nie meer uitgee as wat jy verdien nie, sal jy oukei wees. Werk hard, maar meer belangrik, werk slim.