Begrotings: Jou Sleutel tot Finansiële Sukses

In Februarie elke jaar wag almal in spanning vir die Minister van Finansies om sy nasionale begroting bekend te maak.

Die groot korporatiewe maatskappye wêreldwyd spandeer ook maande lank elke jaar om hulle begrotings op te stel. As lande en groot maatskappye wat biljoene rande het om te spandeer begrotings so belangrik ag, dan laat dit mens wonder hoekom is daar so baie individue wat nie begrotings gebruik vir hulle persoonlike finansies nie?

Sal jy toelaat dat hulle jou huis bou sonder ‘n sterk fondasie? So waarom dan jou reis tot persoonlike welvaart aanpak sonder ‘n begroting? ‘n Effektiewe begroting verskaf ‘n sterk fondasie as dit by persoonlike finansies kom ongeag wat jou finansiële doelwitte of posisie is.

Om ‘n begroting net in jou kop te hê is geensins effektief nie. Skryf dit neer of stel ‘n elektroniese begroting op. Stel ‘n begroting op vir ‘n jaar vooruit, maar doen ook vooruitskattings van wat jou planne is vir die volgende 2-5 jaar en 5-10 jaar. Die vooruitskatting sal jou help bepaal of daar groot uitgawes gaan opduik gedurende die volgende paar jare waarvoor jy nou al moet begin spaar, byvoorbeeld ‘n motor wat vervang moet word of ‘n kind wat universiteit toe gaan.

Begroot vir beide jou inkomste en uitgawes; dit help jou om te bepaal of jy meer spandeer as wat jy verdien. Jou begroting moet spaargeld insluit; dit sal jou dwing om geld te spaar elke maand en dit nie te spandeer nie. Begroot ook vir onvoorsiene uitgawes. In baie gevalle is dit die rekenaar wat skielik breek en vervang moet word of die hond wat skielik veearts toe moet gaan, wat jou maandelike finansiële welstand ‘n lelike knou kan gee. As daar wel onvoorsiene uitgawes opduik, het jy voorsiening gemaak daarvoor in jou begroting en jy kan ontspan. As daar niks onvoorsiens gebeur gedurende die maand nie, het jy die geld beskikbaar om te spaar en ‘n noodfonds op te bou vir groot onvoorsiene uitgawes in die toekoms.

Moenie die belangrike rol wat ‘n begroting in jou finansiële welstand speel gering ag nie. Stel vandag nog ‘n begroting op as jy nie reeds een het nie en as jy ‘n begroting het – hou daarby. Dis die sleutel tot jou finansiële sukses.

 

Vorige artikelBERNINA 1893-2018
Volgende artikelMevrou Doeminie en die roomysmonster
Blogger - Ronel Jooste
Ronel Jooste is ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester met meer as ‘n dekade se korporatiewe ervaring in die bank, versekering en beleggingsindustrieë. Huidiglik het sy haar eie finansiële welstand maatskappy genaamd FinanciallyFiTLife. As finansiële coach en konsultant help sy mense met hulle persoonlike finansies; besighede met hulle besigheidsfinansies en bied ook werkswinkels en finansiële welstandprogramme aan. Ronel het haar eie finansiële geselsprogram op All-Time Radio; sy skryf graag artikels vir verskeie publikasies asook haar eie blog; en tree as spreker op by geleenthede waar sy haar passie vir finansiële fiksheid deel. Saam met haar suster besit sy die PhysEQFiT Gastehuis en privaat gym in Centurion. Ronel is ‘n fiksheidsfanatikus en hardloop, gym, gholf en fietsry is deel van haar daaglikse leefstyl. Haar droom is om mense te inspireer om ‘n gesonde, aktiewe, gelukkige en finansieël welvarende leefstyl te leef. Besoek Ronel se webtuiste www.financiallyfitlife.co.za vir meer blogs, hulpmiddels en hoe Ronel jou kan help met persoonlike of besigheidsfinansies.