Beheer jou humeur by die werk

411
Mickey Roothman
Mickey Roothman

Ons vroue is nogal sensitiewe wesens en ons gevoelens kan maklik met ons op hol gaan. Maar om in die sakewêreld beheer te verloor, of met jou emosies te koop te loop, skep glad nie ’n positiewe, professionele indruk nie.

Dit kan jou loopbaan in die gedrang bring as jy toelaat dat mense of situasies by die werk jou gemoed heeldag wipplank laat ry.

Hoe hanteer ’n mens jou temperament in die beroepslewe?

Die heel belangrikste is om te wag voor jy reageer. Die meeste van ons is geneig om dadelik op ons perdjie te spring en dan is ons nogal emosioneel. Stap eerder vir ’n rukkie weg, dink oor dinge na en haal ’n bietjie asem voordat jy iets sê of doen wat jy later berou.

Bly by die feite van die aangeleentheid en fokus op die werksituasie eerder as die emosies wat daarmee gepaard gaan.

Wees versigtig om dinge nie te persoonlik op te neem nie. Ons is dikwels geneig om te selfgesentreer te wees. Ons neem aanstoot en reageer te liggeraak op klante of kollegas se dikwels onskuldige opmerkings. Moenie alles wat gebeur of wat gesê word as negatief of teen jou gemik beskou nie. As iemand byvoorbeeld sê hy of sy is nie gelukkig met wat jy gedoen het nie, gaan dit nie oor jou as mens nie, maar oor sy of haar verwagtinge oor die werk wat gedoen moet word.

Mickey Roothman, Besigheidstransformasie-afrigter