Belangrike voedingstowwe

0
936

Die B-vitamiene, vitamien D en magnesium is noodsaaklik om gesond te wees en op jou beste te voel. Maak seker jy kry daagliks genoeg daarvan in.

Ek vermoed ek het ’n vitamien B-tekort. Wat nou?

Die B-vitamiene is ’n groep van agt vitamiene (vitamien B1, B2, B3, B5, B6, B7, B9 en B12) met soortgelyke funksies wat mekaar ondersteun en dikwels in dieselfde kosse voorkom. Die liggaam het B-vitamiene nodig om energie te verbrand en die senuweestelsel gesond te hou. Vitamien B9 (foliensuur) en B12 maak die vorming van nuwe selle moontlik.

Velprobleme, sere in die mond, gebarste lippe en diarree kan tekens wees van ’n tekort, maar dit is baie seldsaam in mense wat gebalanseerd eet en ’n verskeidenheid soorte kos inkry, sê Louise van den Berg, voedingkundige. As jy vermoed jy het ’n tekort, gebruik ’n aanvulling soos Vital se Vitamin B Complex, wat die hele groep B-vitamiene bevat, eerder as net ’n spesifieke een.

Indien jy wel ’n tekort het, sal ’n aanvulling ook jou energie ’n hupstoot gee.

Brouersgis (vroue wat borsvoed, bak sommer koekies daarmee) en gisekstrakte soos Marmite is die beste bronne van B-vitamiene. Lewer, maer varkvleis en volgraankosse is ook goeie bronne, asook eiergeel, vis en grondboontjies. Eet blaargroente en lemoene vir foliensuur en suiwelprodukte vir vitamien B12.

Hoe kan ek vitamien D sonder sonskade inkry?

Vitamien D is noodsaaklik vir normale groei en ontwikkeling, veral van die skelet en tande. Dit is ook anti-inflammatories en balanseer hormone.

Dit verskil egter van die ander vitamiene, want die liggaam kan vitamien D met die hulp van sonlig vervaardig. “Die meeste mense met ligte velle kan genoeg vitamien D maak deur ’n paar keer per week net 10 tot 15 minute per dag in die son te kom,” sê Irene Labuschagne, dieetkundige. “Dit is sonder sonskerm, in helder somerweer, met jou gesig, arms en hande blootgestel.”

Vir mense wat nie genoeg in die son kan of wil kom nie (te veel son is sinoniem met velkanker en plooie), of sonskerm gebruik en toe klere dra, is daar wel kosse wat ook vitamien D bevat, soos lewer, vetterige vis soos salm, vislewerolie en eiergeel. Iemand wat feitlik nooit in die son kom nie, moet sowat 600 internasionale eenhede (IU) vitamien D per dag inneem. Dit styg tot 800 IU vir mense ouer as 70 jaar.

Werk magnesiumaanvullings vir spierkrampe?

“Magnesium is noodsaaklik vir elke orgaan in die liggaam, veral die hart, spiere en niere,” sê Donna van Zyl, ’n konsultantdosent in dieetkunde.

Peulplante soos ertjies, bone en lensies, volgraankosse, groen blaargroente en neute soos amandels en kasjoeneute bevat baie magnesium. Volwasse vroue moet ongeveer 320 mg magnesium ’n dag inkry. Sowat 30 gram kasjoeneute (74 mg magnesium), ’n porsie veselontbytpap (103 mg magnesium) en ’n halfkoppie gaar spinasie (78 mg magnesium) sal jou tot by 255 mg magnesium in ’n dag kry.

Volgens Donna is ernstige magnesiumtekorte seldsaam. Sy beveel nie aanvullings aan tensy ’n mens ’n bevestigde gebrek het en dit met jou dokter bespreek het nie. ’n Tekort kan wel ontstaan as jy as ’n reël nie genoeg kos met magnesium inkry nie, ’n siekte het wat daartoe lei of alkohol misbruik.

’n Swak eetlus, naarheid en braking, moegheid en swakheid is vroeë tekens van ’n magnesiumgebrek. Indien dit nie behandel word nie, kan jy uiteindelik spierkrampe en ’n abnormale hartritme ontwikkel.