Belinda Pieterson

0
288

Wanneer BELINDA PIETERSON agter die stuur sit, beleef sy ’n onbeskryflike vrede. Haar gedagtes raak stil en dis net sy en haar motor.

Belinda jaag nie vir bekendheid nie en ook nie vir geld nie. Dit is bloot deel van wie sy is. Dis beslis nie altyd maklik en veilig nie, maar om aan wedrenne deel te neem is haar passie. Sy deel dit graag met haar hartsmense.

Ek was nog altyd ’n diereliefhebber en -aktivis. Om elke dag soveel mishandeling van weerlose diere te sien, breek my hart. Dis waarom ’n loopbaan as prokureur wat kon opstaan vir diereregte, die logiese keuse was. Die studies was egter te duur en my drome is opsygeskuif.

Werksoek was die enigste opsie. Na ’n tweede onderhoud by Pretoria FM was die pos by Bemarking en Verkope myne. Die besturende direkteur, Willie Lubbe, het my gehelp om vir die LLB-graad in te skryf. Ek studeer nog, maar is intussen baie betrokke by die Wollies Diereprojek.

Hoe het my liefde vir die sport begin? My oupa was ’n renjaer in die 1970’s en my pa het in sy voetspore gevolg. Hy was my held. Later het my kêrel ook resies gery. Op ’n dag was genoeg net genoeg en was dit my beurt!

Daar was al ’n hele paar oorwinnings, waarvoor ek ongelooflik dankbaar is. My mense en my geloof tel my op sodat ek die sterre kan pluk! God hou my stuurwiel vas en lei my. Voor en na elke wedren kry Hy die eer, ongeag of ek wen of verloor.

Ek het al so baie honde gered dat ek gaan jok as ek sê hoeveel, en elke keer as ek een red, neem ek ’n foto van die hond. Dit is wonderlik om ’ n hond se eienaar op te spoor, maar die meeste van die honde wat ek al gered het, was mishandel of weggegooi.

Dis harde werk om ’n sukses van my studies en loopbaan te maak, maar die beloning sal kom – net die beste word mos vir my toekoms beplan!

My hart is so geskep dat ek meer omgee vir my medemens en vir diere as vir myself. Ek is dankbaar teenoor God daarvoor, want as gevolg daarvan help ek op enige manier wat ek kan. Elke dag leer liewe Jesus my om dankbaar te wees vir dit wat ek het.

This slideshow requires JavaScript.