Belofte van somer…

Die koue roomys smelt in my mond en laat ‘n soet smaak van aarbeie na. Die gras is lowergroen en voel soos ‘n sagte kombers onder my. Dit is somer in Europa…

Dit is moeilik om te dink dat slegs 24 uur gelede ek nog in ‘n koue Pretoria was, met my hande voor die verwarmer, ‘n warm serp om die nek en ‘n klaaglied van hoe ek liewer winter in hibernasie sou wou deurbring.

Dit tref my hoe vinnig ek vergeet het van die koue winter, die enigste bewyse dat my lyfie lanklaas in die son was, is my wit bene wat onder my geblomde rokkie uitsteek. Winter is vergete en ek kan nie my indink dat dit bibberend koud by die huis is nie.

Soms voel ons winter seisoen so nimmereindigend dat ons liewer in hibernasie wil inbeweeg. Ons wil ophou voel, ophou asemhaal, ophou dink, ophou wees… Dit is in die moeilike tye dat ons werklik besef wat belangrik is in die lewe en wie jou nooit in die steek sal laat nie. Soms moet ons, net soos die natuur in ‘n prediode van rus inbeweeg sodat ons weer energie kan hê vir dit wat voorlê. Soms moet ons deur ‘n “detoks” fase gaan sodat ons kan fokus op dit wat regtig belangrik is.

Ek is dankbaar dat nag in dag verander en winter ook weer in somer. Dit is ‘n belofte, na die winter moet ons weer lente en somer beleef…

Byt vas, een van die dae gaan die seisoen vir jou verander en dan gaan die koue wintersdae in jou lewe en hart ook vergete wees…

Ps 30:5 “… gehuil mag duur vir die nag, maar blydskap kom in die oggend.”

Foto Krediet: Tanja Rootman Photography