Bereik jou droom in 6 maande

0
273
carrol_boyes.jpg

Carrol Boyes het haarself ses maande gegee om haar droombesigheid te begin. Danksy haar talent en besigheidsin bestuur sy vandag ’n internasionaal gesogte handelsmerk.

Een ding wat my fassineer …

Is om my eie of ander mense se idees realisties uit te beeld. Dis iets waaroor ek nog altyd passievol was, en ek het dit reeds as kind begin doen. Dis wonderlik om iets kreatiefs dog prakties uit niks te skep. My pa was ’n dokter en het geboer, terwyl my ma die kreatiewe een was. Ek was gelukkig om ietsie van elkeen te erf!

Iets waarvoor ek dankbaar is …

Is my familie se volgehoue ondersteuning. My pa, ’n realis, was ’n bietjie skepties oor hoe ek ’n bestaan as kunstenaar sou kon voer, maar het my nog altyd aangemoedig. My broers het gehelp om die masjiene wat ek nodig gehad het en wat in daardie jare nog nie bestaan het nie, te ontwerp en te prakseer. Dit wys jou net, jy moet besigheid prakties én kreatief benader!

Die beste besigheidsadvies ooit …

Het ek gekry kort nadat ek my onderneming begin het. Stanley Lewis van die Foschini-groep het vir my gesê: “Carrol, jou besigheid is ’n omgekeerde piramide. Jy is onder. Alles rus tans op jou skouers. As jy iets oorkom, gee alles pad. Jy moet die piramide omswaai. Jy moet bó wees en die werk na onder kanaliseer. Anders gaan jy nie uitbrei nie.”

’n Uitdaging wat ek moet oorkom …

Is dat ek soms graag meer aandag aan die kreatiewe been van die besigheid wil gee, maar dan moet ek fabriek toe gaan of by onderhandelinge of ’n transaksie betrokke raak. Nie dat ek kla nie. Ek geniet al die aspekte van besigheid. Dis maar net dat die een nie sonder die ander kan funksioneer nie. Jy kan nie net op een been fokus nie.

Ons handelsmerk is gewild …

Omdat ons ontwerpe en produkte mooi sowel as funksioneel is. Dit was vir my belangrik om iets pragtigs te skep wat jy kan gebruik. Dit moet wow lyk, maar nie nutteloos wees nie. Ons was een van die eerste besighede wat hierdie mark betree het; dit is ’n groot voorsprong wat ons het en wat altyd in ons guns sal tel.

Ek kan nie sonder …

My pragtige, goed opgeleide en lojale personeel, my iPad en my knipmes funksioneer nie! Naas my hande is dit die beste stuk gereedskap vir beeldhouwerk. Met my knipmes skep ek vandag produkte wat die gehalte en eienskappe het om môre se antieke stukke te word. Ons produkte moet nie net ’n seisoen hou nie. Dit moet van generasie tot generasie oorgedra kan word.