Besig. Besig. Besig.

besig

Desember in Pretoria. Minder karre op die paaie. Minder mense tuis. Dit laat my dink. Ons as mense moet oppas vir die leegheid van ‘n gejaagde lewe.

Dink maar aan die mense wat jy elke dag sien en raakloop… of nie elke dag sien nie. Sou jy elkeen van hulle vra: ’Hoe gaan dit?’ sou die antwoord bykans sonder uitsondering wees: ’Besig. Besig. Besig.’ Natuurlik, gaan ‘altyd moeg’ ook hand aan hand met ‘besig besig besig’. Ja, mense leef op die rand van uitbranding na liggaam, siel en gees. Ek wil sommer hardop lag wanneer ek dink dat dit selfs vir baie ‘n ‘statussimbool van sukses’ geword het. Mense jáág van die oomblik wat die wekker roep tot hulle teen middernag neerslaan in die bed.

Ja, ‘n gejaagde lewe kom met ‘n prys. (Dít het die lewe my eerstehands geleer) Dit was egter net die een helfte van die waarheid het ek ontdek. Die ander helfte van die volle waarheid is wanneer ons as mens teruggaan na toe God ons as die kroon van Sy skepping gemaak het, besef ons dat Hy dit goed gedink het om ons in ‘n ‘tuin’ te laat woon, wat beslis nie ‘n ‘beton-woud’ is nie. Net so terloops, tuin spel mens eintlik so: RUS. ‘n Plek waar jy rus, luister en waardeer, dis ‘tuin’, dis plek van rus, rusplek.

Natuurlik is ons as mense vandag Adam en Eva baaaaaie jare vooruit, MAAR GOD. Ten spyte van die mens se fenomenale uitvindings en tegnologiese wonders moet ons erken het ons almal in die proses van ‘haastig leef’ só baie verloor, só veram. Ons betaal ‘n duur prys vir ‘adapt or die’ tydgleuf vir die mensdom.

Ons mense is siek…  siék gejaag, siék gestres, siék bekommer, siék geleef… en die lys gaan aan en aan, eindeloos. Onvrugbaar in sielsverhoudings is die norm. Ja, ouers en kinders het selfs die kuns vervolmaak om ‘uit mekaar se pad te bly’. Dis alledaags dat mans en vroue vreemdelinge word in dieselfde bed. Ja, mense se liggame ly daaronder en hulle word kil en koud in gees: Niks warm, intieme, lewegewende verhouding met die Gewer van lewe nie, want tyd is doodeenvoudig net nie daar daarvoor nie.

Ek het lankal geleer, indien enigiets buite Sy skeppingsdoel aangewend word, is die uiteindelike prys daarvan: dood. Hoe maklik vergeet ons as mense nie dat God ons inherent geskep het om te dors na Hóm (nie geld, mense en dinge nie), ‘n dors wat nét in ‘n verhouding met Hóm geles kan word. Soos in enige sinvolle verhouding, vra ook hierdie verhouding tyd, tyd vir stilword, luister en waardeer.

Ek ondervind, dis wanneer ekself midde die gejaagdheid van die lewe, tyd uitkoop om stil te word, dat ek waarlik ‘n Genesis tuin ervaring elke dag beleef. Ja, élke dag. Dis daar en dan wanneer ek as mens, as vrou, bemagtig en bekragtig word om élke dag te deurleef. Om vrugbaar te wees in elke area van my eie lewe en in my eie verhoudinge met my Skepper en my kosbare, waardevolle man en daar waar Hy my voetspore rig, elke dag.

Dis die plek, in my éie Genesis tuin, waar ek elke dag hierdie vers as ‘n realiteit beleef:’ Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig die sterkte vir die wat geen krag het nie…die wat op die Here wag (nie op geld mense en dinge nie onthou), kry nuwe krag, hulle vaar op met vleuels soos die arende, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.’ Jesaja 40:29 en 31.

Waag dit om ‘n arend te wees in ‘n wêreld vol hoenders.

Vorige artikelOns geloof vee af op ons kinders
Volgende artikelBegin om nuut te dink
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is terselfdertyd onkonvensioneel, passievol, vreesloos, kreatief, teen die grond neergegooi maar nie vernietig nie, vol blydskap en humor, Woord deurdrenk en geesvervuld, ‘n onvergeetlike persoonlikheid. Tania Delport se skryftalent is ‘n passie en natuurlike gawe van God maar ook stil-stil geïnspireer deur die welbekende skrywer Hennie Aucamp wat 20 Maart 2014 oorlede is. Sy het in die Stormberg hoogland in die Oos-Kaap grootgeword op die buurplaas vanwaar hy grootgeword het. Haar oom aan haar pa se kant was getroud met die suster van Hennie Aucamp, dus was hy deel van haar familie binnekring. Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag het L-I-G in die dag geword want God is Liefde. Haar lewe het vlerke gekry. Dis tyd vir joune!