Beskerm jou geld vir eendag

599
Wouter Snyman

Dit is algemeen bekend dat meer as 80% van Suid-Afrikaners nie ’n testament het nie. En tog kan dit binne 30 minute opgestel word!

Een onveranderlike in die lewe is dat ons almal gaan sterf. Ongelukkig is almal se finansies nie in orde nie. Daar is ’n paar dinge wat jy in gedagte moet hou wanneer jy hiervoor beplan.

’n Testament kan jou geliefdes baie help

’n Testament help om jou bates so vinnig en maklik moontlik aan jou geliefdes oor te dra. Daarsonder kan ’n boedel jare neem om af te handel. Jy kan ’n voog vir jou kinders benoem en selfs boodskappe aan jou geliefdes stuur.

Jy kan ook ’n sogenaamde “lewende testament” opstel wat van krag sal word in ’n sekere situasie, byvoorbeeld wanneer jy in ’n koma is. Jy gee dus aan ’n ander persoon die volmag om namens jou besluite rakende jou bates en versorging te neem.

’n Baie gewilde manier wat al hoe meer mense vandag gebruik, is ’n trust. Dit is ’n betroubare entiteit waarbinne jy jou bates kan bêre, en wat voortgaan ongeag die datum van jou dood. Dit maak dit makliker om jou fondse te bestuur.

’n Trust is beter as jy baie bates het

Vir die meeste mense is ’n testament voldoende. Vir ryker mense is ’n trust meer gepas. Dit is ’n wettige dokument wat eers geldig raak sodra sekere bepalings nagekom word.

Terwyl jy nog leef, bestuur jy self jou bates. Die oomblik wanneer jy sterf, word dit direk na ’n trustee van jou keuse oorgedra. Jy kan nie ’n voog vir jou kinders hierin benoem nie, maar jy kan steeds ’n aparte testament hiervoor opstel as jy wil.

Daar is natuurlik trustees wat jou trust vir jou bestuur. Die begunstigdes is gewoonlik jou gesin, familie en ander persone wat jy as begunstigdes benoem. Dis ’n veilige opsie. Daar is heelwat wetgewing in Suid-Afrika wat uit die ou Engelse bedeling vloei, waar trusts lankal gebruik is om bates te beskerm.

Die belangrikste beskermingsmeganisme is om seker te maak dat jou wense vir jou geld uitgevoer word. Maak seker die mense met wie jy gesels en wat jou raad gee en bystaan, weet presies wat hulle doen.

Maak seker jou wense vir jou geld word uitgevoer

Gebruik die dienste van iemand wat jy ken en vertrou. Daar is baie instansies wat jou kan help, byvoorbeeld banke en prokureursfirmas. Dit is soms onpersoonlik en dus uitdagend. Ons werk so hard om ’n nalatenskap op te bou, maar dan doen ons nie die moeite om seker te maak dat hierdie proses goed bestuur word nie.

Beplan jou testament om so eenvoudig en prakties moontlik te wees. Moenie dit as ’n dokument beskou wat eers in werking sal tree wanneer jy ’n gevorderde ouderdom bereik het nie. Jy is miskien nie so gelukkig nie. Toets die inhoud teen die kontant wat in jou boedel beskikbaar is.

Dit is byvoorbeeld miskien nie raadsaam om jou bates gelykop tussen jou gade en kinders te verdeel nie, tensy jou hele boedel uit kontant bestaan. Omring jou met mense wat goeie raad hieroor kan verskaf. Onthou, jou geliefdes bly sonder jou agter, moenie nog finansiële trauma ook agterlaat nie.

Wouter Snyman – Finansies, besigheid en entrepreneurskap

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.