Beskerm jou kind teen kuberboelies

225

Boelies is nie meer net op die speelgrond nie. Hulle is nou op kinders se selfone en gaan oral saam. Raak só van hulle ontslae.

As jy hoor hoeveel jongmense hulle eie lewe neem as gevolg van dreigemente of verkleinering op sosiale media, wil jou hart breek. Kan iemand met ’n toekoms voor hulle so alleen en hulpeloos voel dat dit hulle enigste uitweg is? Ouers moet ingelig wees sodat hulle hulle kinders teen dié tipe afknouery kan beskerm.

Kuberboelies verkleineer en beledig ander kinders

“Kuberboeliery” is die naam vir wat gebeur as een kind ’n ander slegsê, dreig of verkleineer op ’n sosiale podium soos Facebook. Wanneer ’n grootmens in die prentjie kom, word dit as teistering gesien en dan is dit heeltemal ’n ander storie.

Dit kan op verskillende maniere plaasvind. ’n Kuberboelie sal byvoorbeeld iemand vir wie die slagoffer lief is, verkleineer of beledig. Dit kan die slagoffer se hond of kat, ouma, oupa of ouers wees.

Daar word ook kompetisies gehou. ’n Kind sal byvoorbeeld vra wie is die stinkste persoon in die klas en dan ’n naam noem. Dink net die verleentheid wat die kind ervaar!

Miskien klink dit vir jou as ouer onbenullig, maar die impak daarvan is groot. Die probleem is dat die boelie nie op die speelgrond agterbly nie, maar dat die selfoon saam huis toe gaan. Die boodskap word oor en oor gelees en in die geheue ingeprent. En die boelie hou aan om daardie negatiewe inligting met ’n klomp mense te deel.

Kry bewyse en moenie op die boodskappe reageer nie

Dit is nie maklik nie, maar gelukkig is daar maniere om die situasie te bestuur. Sodra julle opmerk dat julle kind anders optree as normaalweg, is dit tyd om te praat. ’n Goeie verhouding is belangrik sodat sy die vrymoedigheid sal hê om met jou te gesels.

Onthou om bewyse te kry. Neem ’n skermskoot (screenshot) of ’n foto van die skerm en die boodskappe wat gedeel word.

Dis uiters belangrik om nie kommentaar te lewer op wat gesê word nie. Don’t feed the trolls! Miskien weet julle wie dit is en dat dit dalk ’n leerder in die skool is. Onthou dat dit nie die skoolhoof se probleem is nie, aangesien dit nie op die skoolgrond gebeur nie. Julle sal self met die kind se ouers moet gaan praat.

As julle nie weet wie die skuldige is nie, is dit dalk tyd om die kenners te betrek. Dit is hier waar die polisie en forensiese analiste partykeer betrokke raak.

Neem haar na ’n berader of sielkundige indien nodig

Die belangrikste is om seker te maak dat jou kind nie alleen voel nie. Sy moet weet dat jy daar is om te help en dat die hele aangeleentheid nie haar skuld is nie.

Sielkundige hulp en ’n openhartige gesprek is die belangrikste gedeelte van die hele proses. Dis belangrik om ontslae te raak van die gevoelens van verwerping en die emosionele trauma. Sy moet op die regte manier deur die hele proses gelei word.

Maak ook seker dat jou kind nie dalk die boelie is nie. Dis maklik om sommer net ’n grappie te maak en te dink iets is snaaks. Leer haar dat een opmerking ’n groot negatiewe effek op iemand se lewe kan hê.

RIANETTE LEIBOWITZ, SaveTNet Cyber Safety

Kliek hier vir meer digitale ouerskap met Rianette Leibowitz.