Besluit om gelukkig getroud te wees

0
26
gelukkig.jpg

Dinge gebeur nie net nie – jy en hy is verantwoordelik vir julle geluk.

Huwelike kan blom as ons almal weet aan watter klein en groot dinge ons aandag moet skenk.

En intussen kan jy elke dag, elke week en elke maand die regte ding doen vir julle verhouding:

Een keer per dag behoort jy vir jou maat …

  • … ’n kompliment te gee.
  • … minstens een ding te vertel wat jy daardie dag van hom waardeer het.
  • … ’n bladsy uit ’n boek lees wat jul huwelik kan verryk
     

Een keer per week behoort jy …

  • … minstens twee ure lank ononderbroke met jou man te gesels. Die eerste halfuur oor die werk en kinders en die res van die tyd oor hartsake.
  • … vir jou maat iets te vertel wat jy oor die algemeen van hom waardeer, soos dat hy hardwerkend of lojaal is
  • … pret saam te hê deur iets te doen wat vir julle albei lekker is.
     

Een keer per maand behoort jy vir jou maat …

  • … een ding te vertel wat hy nie van jou geweet het nie (bv. jy haat rooi koeldrank)
  • … te sê wat jou geliefd laat voel. Soos: “Wanneer jy soggens vir my ’n koppie koffie in die bed bring, voel ek spesiaal.”
  • … iets onvoorspelbaar te doen. Of dit nou ’n kersligete in jul agtertuin is of twee kaartjies vir die rugby-eindstryd.
     

Sorteer julle probleme uit

Soms voel dit asof jy net nie kan deurdring tot jou maat nie. Julle kan net so wel van verskillende planete wees. Hier’s ’n paar algemene situasies en hoe om dit te hanteer:

PROBLEEM 1 Ons stry nooit.

Hy vermy alle konfrontasie en weier om ’n uitweg vir haakplekke te soek.
Oplossing: Onopgeloste konflik is beslis nie gesond nie en kan tot ’n groot uitbarsting lei. Moenie hom konfronteer nie, vra eerder sy opinie. En gee hom dan ’n paar keuses wat vir jou aanvaarbaar is. Vra byvoorbeeld “Wat dink jy?” of “Wat verkies jy?”.

PROBLEEM 2 Ek soek meer ondersteuning

Ek raak gespanne oor al die eise wat aan my gestel word, maar dit pla hom min. Is ’n bietjie ondersteuning te veel gevra?

Oplossing: Kerm jy net in sy ore of vra jy spesifiek wat jy nodig het? Laat hom verstaan dat hy nie nodig het om al jou probleme op te los nie. Al wat jy vra, is ’n oor wat luister en ’n skouer om op te huil.

PROBLEEM 3 Hy wil nie oor ons gesels nie

Hy ignoreer my wanneer ek probeer om oor ons verhouding te gesels.

Oplossing: Skryf ’n brief en vertel hom hoe jy voel. Dit is moeiliker om iets op skrif te ignoreer, veral as dit gedurig onder sy neus gedruk word.

PROBLEEM 4 Ons argumenteer oor als

Ons sukkel om besluite te neem, want elke gesprek eindig in ’n argument.

Oplossing: As dit weer gebeur sê: “Aangesien ons nie klaar hieroor gepraat het nie en ’n besluit geneem móét word, sal ek nou maar op my eie besluit.” Tree dan op. Volgende keer sal hy dalk meer belangstel om deel van die gesprek te wees.

Liefdeskos

Soms kan jy manlief verras met ’n romantiese ete vir twee. Volg net hierdie maklike raad …

  • Hou dit eenvoudig. Kies iets wat nie te lank vat om voor te berei nie en wat nie te swaar op die maag is nie. Dit help veel julle is albei so ooreet dat julle nie kans sien vir romanse nie.
  • Kleur en vorm is belangrik. Stel ’n spyskaart saam uit rooi en pienk kos en gebruik souse of vorms om ’n liefdesboodskap oor te dra.
  • Kies die regte bestanddele. Oesters het glo magiese kragte. En enigiets met sjokolade vir nagereg werk, sê die wat weet.
     

Oë vol bewondering

My man en sy ma was altyd baie na aan mekaar. Dit het my so jaloers gehad. Party dae het dit gevoel hy verkies haar geselskap bo myne. Ek wou nie haar plek inneem nie, maar sy moes ook nie mý plek oorneem nie.

Wat doen my skoonma wat ek nie doen nie? het ek gewonder en mooi begin oplet. Ek het gehoor hoe sy hom prys en komplimenteer. Ek het van voor af begin entoesiasties raak oor my man. As hy by die huis kom, het ek hom vertel hoe ek hom gemis het. Doen hy iets in die huis, sê ek opreg dankie. Hy weet nou dat ek hom waardeer en dit het wonders vir ons verhouding gedoen!