Bestuur die taal wat jou lyf praat

0
586

Jou man het nie ’n woord gesê nie, maar hy hoef ook nie. Hoe hy sy oë rol en hande in die sye staan, spreek boekdele.

Sonder dat jy ’n woord hoef te sê, praat jou lyf en gedagtes ’n taal. Sielkundiges meen dat 90% van alle kommunikasie deur jou lyftaal en jou stemtoon gebeur. Intuïsie is daardie vermoë wat ons elkeen het om te weet wat iemand sê sonder dat ons die woorde hoef te hoor.

Jou lyf vertel ’n storie vir ander mense

Jou liggaam praat ’n taal wat dikwels harder is as die woorde uit jou mond! Dit is ’n opwindende vaardigheid wat ons almal kan aanleer – om ons lyftaal te laat pas by dit wat ons dink en sê. Suksesvolle verhoudings word gebou op suksesvolle kommunikasie, veral die soort wat sonder woorde gebeur.

’n Ruk gelede sien ek en my vrou ’n dame wat langs die pad staan en wag vir ʼn taxi. Jy kan haar deur ʼn ring trek, so netjies en goed versorg is sy. Sy straal trots en eiewaarde uit daar langs die pad. Iemand het op ʼn keer gesê: “Dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie, maar wanneer jy aantrek, trek aan met trots. Wanneer jy staan, staan met trots.” Eiewaarde en selfrespek word uitgestraal en kan nie met geld gekoop word nie. Trots is iets wat jy aan die binnekant dra.

Dit is nou my vierde jaar saam met die Goue Leeus-rugbyspan. Mense maak dikwels hierdie opmerking: “Wanneer die span op die veld draf, is daar nie fisies ’n verskil aan hulle nie, maar in die geestelike dimensie (wat jou klein stemmetjie binnekant vir jou sê) voel jy dat daardie manne wat op die veld draf, outoriteit uitstraal.” Wanneer ’n mens bewus word hiervan, begin jy dit ook sien.

Moenie geluk in wêreldse dinge en mense soek nie

In Spreuke 17:22 staan daar: “’n Vrolike hart is soos medisyne, ʼn opgewekte gees bring genesing maar ’n verslae gees laat die gebeente uitdroog.” As jy die beste voorskrif vir gesondheid wil kry, dan is dit hierdie vers! Om gesond te wees: Wees gelukkig en lag baie!

As jou geluk deur die wêreld en sy mense en dinge bepaal word, dan het mense en dinge die belangrikste in jou lewe geword. Ons moet ons vreugde vind in die dinge wat nie verbygaan nie. Ons lewe gaan nie oor ons gemak nie – dit gaan oor ons vermoë om uitdagings die hoof te bied met vrede in die hart.

Ek wil jou uitdaag: Dra jou lyf, jouself, jou gesigsuitdrukking en jou glimlag – dra alles vandag sodat wanneer mense na jou kyk, hulle ʼn stukkie hemel in jou sal sien. Dan sal jy begin verstaan dat vrywees niks te make het met jouself nie. Dit gaan alles oor hoekom jy hier op aarde is. Om dit te besef en te leef is ware vryheid.

Straal positiewe energie uit sonder woorde

Staan met jou hande gemaklik langs jou sye en nie met jou arms oor jou bors gevou in ʼn gesprek nie. Gevoude arms sluit jou af van ander. Glimlag gemaklik en praat duidelik en rustig. As jy te sag praat, gaan mense jou vermy. Maar as jy weer te hard of vinnig praat, mag mense voel jy is aggressief. Te stadig praat kan ander weer irriteer. Geniet die andersheid van ander eerder as om hulle te beoordeel. Onthou, almal hoef nie soos jy te dink en te glo wat jy glo nie. Daar is ’n gesegde wat sê: “Life is much more fun when we stop keeping score for other people.”

ʼn Man het ʼn sielkundige gaan sien. Hy het vertel dat hy in elke argument met sy vrou vir haar gesê het dat hy jammer is. Tog het dit net altyd tot nog groter rusie gelei. Nadat die sielkundige ook met haar gesels het, moes hy hoor dat sy hom nooit geglo het nie, want hy het altyd sy oë gerol as hy om verskoning vra. Hy moes leer om sagter te praat en haar in die oë te kyk. Skielik was hulle argument binne sekondes verby!

Die goeie nuus is gelukkig dat ons almal kan aanleer om beter te kommunikeer met ons liggaam. Lyftaal is ’n vaardigheid. Een wat jy ook kan aanleer!

Jannie Putter, mentor en motiveringspreker

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie.