Bestuur dit waaroor jy beheer het

370
Hoe om te wen in besigheid

Na 1994 het die speelveld vir ingenieurs baie verander. Die eerste maatskappy vir wie ek gewerk het, het ’n paar ouer direkteure gehad en dit was vir hulle bitter moeilik om by die tye aan te pas. Ek het dikwels met idees gekom in die hoop dat die maatskappy ’n bietjie wyer kan dink, maar dit het nooit posgevat nie.

Daar was ook sprake dat die direkteure eerder die maatskappy wou verkoop as om mense in te bring wat voldoen aan die ideale van die ontwikkelende demokrasie in Suid-Afrika. Ek was nie seker of daar vir my ’n toekoms sou wees as ek besluit het om by daardie maatskappy te bly nie.

Dit gaan baie oor die konneksies wat jy het

Die plan was nooit om op my eie te gaan nie. Ek wou verder studeer en dan weer by ’n maatskappy vir werk aansoek doen, maar in hierdie tyd het van my ou kliënte by die maatskappy waar ek gewerk het, my gekontak en groot kontrakte aangebied. Ek kon nie anders as om weer te begin werk nie, maar dié keer sou dit op my eie wees.

Met daardie werk het ek reeds my eerste belangrike les as entrepreneur geleer: Dit gaan oor wie jy ken. Aangesien siviele ingenieurs verantwoordelik is vir die infrastruktuur van die land – paaie, rioolnetwerke, elektriese netwerke, stormnetwerke, reservoirs – is die regering een van die grootste bronne van inkomste. Regeringstenders is egter bitter moeilik om te kry behalwe as jy iemand ken wat iemand ken. Gebruik dus jou netwerke as dit jou help om werk te kry.

As jou produk goed is, sal jy kontrakte kry

Gelukkig is daar ook privaat kliënte wat die dienste van ’n siviele ingenieur nodig het. Ons doen nie werklik bemarking nie, maar is geseënd om steeds werk te kry. Ek glo as mense weet jou produk is goed en jou diens uitstekend, sal die kontrakte inkom. Ongelukkig is jy steeds afhanklik van die regering om planne goedgekeur te kry – prosesse wat dikwels baie lank duur.

Kontantvloei is die grootste uitdaging vir elke besigheid

Die basis van enige besigheid is kontantvloei. Sonder geld kan jy niks doen nie. In die ingenieursbedryf is kontantvloei nog belangriker, want jy kan nie begin met ’n projek as daar nie geld is om die werk mee te begin nie.

Dis ook nie klein bedrae waarvan ons hier praat nie. Privaat kliënte wag dikwels vir finansiering van die bank en het nie daardie soort geld wat sommer net rondlê om ’n de-posito te betaal nie.

Indien die tenders wel toegestaan word, is die kontantvloeiprobleme nog nie opgelos nie. Projekte neem ontsettend lank. Net om die omgewing- en stadsbeplanningsprosesse te laat goedkeur, neem tussen 12 tot 18 maande. Ons kan eers dan begin om paaie te bou en die dienste te installeer. In swak ekonomiese toestande kan projekte op ys gesit word vir baie lang tydperke tot die ekonomie beter is.

’n Projek kan ook teruggehou word as gevolg van ’n oponthoud om planne goed te keur. Wanneer betaling gebeur, word die ingenieurs heel laaste ná die stadsbeplanners en omgewingmense betaal.

Dis nou as jy enigsins betaal word.

Niebetaling gebeur ook baie. Die een opsie is om ’n voorafde-posito te vereis, maar die gemiddelde privaat kliënt het nie daardie soort geld nie. Hulle is afhanklik van finansiering wat eers goedgekeur word en jy kan nie iemand geld vra wat dit nog nie het nie.

Kontrakte is ook maar net so goed soos die papier waarop dit geskryf staan. Daar is nie veel wat jy kan doen oor kliënte wat nie betaal nie. Regsaksies het bitter min positiewe resultate. Party rekeninge is al ses jaar uitstaande en terwyl jy hoop dat dit maar eendag inbetaal word, moet jy steeds jou personeel betaal en bedryfsuitgawes dek.

Ek moes al ’n paar keer nog verbande op my huis neem. Vandag is ek bly ons het deurgedruk om te wees waar ons vandag is.

Pas aan by wat jy nie kan beheer nie

Wat erg is, is dat ’n mens nie so ver vooruit kan beplan nie. As ek twee jaar in die toekoms kan sien, is ek bly, maar selfs dit is skaars. In hierdie bedryf kan jy so ver vooruit beplan soos jy wil, maar daar kan soveel goed intussen gebeur nog voor die projek begin.

Daar is dus baie faktore waarvan mens nie seker is nie. Ek probeer soveel as moontlik weet wat om my aangaan, maar oor die regering se beleid, wette en die wêreld se ekonomiese klimaat, het ek nie beheer nie. Al wat dan oorbly is om te adapt, anders gaan jy die, soos die spreekwoord sê.

Daar is baie uitdagings, ja, maar ek is steeds mal oor my werk. Veral die tegniese deel daarvan. Alhoewel ek nou in ’n bestuursposisie is en ek meer ’n oorsienende rol speel, moet ek daagliks nog verslae en planne goedkeur.

Werk nou maar lekker terwyl jy werk

Is werk ooit lekker? Ek weet nie, maar terwyl mens soveel tyd van jou lewe by een plek spandeer, kan mens dit net sowel aangenaam maak. Ons bedryf die besigheid vanuit ’n ou plaasopstal en dit voel en lyk nie soos ’n kantoor nie, meer soos Paul Kruger-huis in Pretoria-middestad. Die aangesig is wit met baie pilare, groen geute en ’n sinkdak. Dis regtig ’n wonderlike plek. Daar is ’n paar hoenders op die werf. Hulle kraai bietjie baie, maar dit maak die atmosfeer soveel meer besonders.

Ek het selfs al ’n klein leeutjie grootgemaak nadat ’n kliënt hom op ’n dag in ’n klein boks met ’n resep om sy melk aan te maak, by my gelos het. Toe hy groter was, het hy die gewoonte gehad om, wanneer jy op die terrein is, agter ’n boom of bos uit te spring en jou letterlik om jou voete te gryp.

Almal het van die leeu geweet. By ’n kliëntefunksie vra die kliënte toe of hulle hom kan sien. Ons het hom daar ingebring, ’n gevriesde hoender gegee om te eet en toe het hy vol bravade rondgeloop en die mense begin rondjaag. Dit was nogal groot pret, maar daarna het ons hom na ’n reservaat laat gaan.

Stel die regte mense onder jou aan

In plaas daarvan om in die onsekerheid vas te kyk, fokus ek op alles wat ek wel kan beheer. Een daarvan is die mense wat ek aanstel.

Suid-Afrikaanse ingenieurs is goed opgelei, of hulle nou by ’n technikon of universiteit studeer het. Die meeste kennis word egter steeds opgedoen deur praktiese ervaring. By ons word jy by die diep kant ingegooi. Dis vir my wel belangrik dat die senior ingenieurs hul kennis en ervaring oordra voor hulle aftree. So word die lugleegte tussen die ouer en jonger manne minder gemaak.

My personeel is 25 mense groot. Dit voel vir my regtig soos ’n familie. Ons ken mekaar baie goed. Ek het heeltemal ’n oopdeurbeleid. My kantoordeur gaan nooit toe nie. Personeel kan enige tyd met my praat. Ek glo dit bring mense nader aan mekaar. Met kundige mense wat hulle werk geniet en nie bang is vir uitdagings nie, kan ek enige uitdaging aanpak.

LEON WENTZEL, Besturende Direkteur, Civil Consult