Bestuur jou geld reg

2516

Om finansieel vry te wees beteken om met jou inkomste te doen wat jy wil en steeds genoeg oor te hê om van te leef.

Die meeste mense begeer werksekuriteit én finansiële vryheid. Werksekuriteit beteken jy weet jy is verseker van ’n werk. Jy kan vir die volgende klompie jare elke oggend werk toe gaan. Baie mense verruil ongelukkig hulle vryheid vir sekuriteit, maar mense wat rykdom en voorspoed najaag, handhaaf ’n balans tussen die twee.

Maak ’n plan vir nog ’n bron van inkomste

Om ’n tweede inkomstestroom te hê beteken jy begin om ’n klein gedeelte van jou geld maandeliks weg te sit, in ’n direkte beleggingskanaal of in aandele. Die beginsel is eenvoudig – as jy saad in die grond sit, gaan jy oes. As jy met ’n boer praat en hy sê hy het al sy saad opgeëet, is die kans skraal dat hy enige opbrengs op sy grond gaan hê. Tog is dit presies wat ons met ons geld doen.

’n Besigheid is ook ’n manier om ’n tweede inkomste te verdien. Al werk jy vir iemand anders, is dit steeds ’n besigheid. Jy word betaal vir die waarde wat jy met jou vaardighede of kennis toevoeg.

Hoe groter die probleem wat jy moet oplos in die spesifieke area waarin jy opgelei is, hoe meer word jy betaal. Gaan dink ’n slag oor dit wat jy doen en hoe dit moontlik is om meer mense te bereik deur oplossings vir hulle probleme te vind.

Hou boek van elke rand wat jy uitgee

Dit gebeur te dikwels dat ons geld uitgee sonder dat ons boekhou van waarop ons dit spandeer. Dis ’n groot uitdaging. Ek weet nie van jou nie, maar as ek by die OTM kontant trek, en ek loop met die kontant in my beursie, verdwyn die note vinnig. Voor jy jou kom kry, het jy R1000 of R2000 uitgegee en jy het geen idee waarop nie.

Begin om boek te hou daarvan. Bêre jou strokies, en maak sommer net ’n nota daarop. As jy ’n OTM-onttrekking gemaak het, sê vir jouself hoe jy die kontant wil spandeer. Ryk mense, dié wat welvaart smaak, is die mense wat hulle geld bestuur. Ek en jy moet daardie eenvoudige stappe begin volg om eienaarskap te neem en rekenskap te gee van elke sent wat uitgaan.

Maak seker dat jy nie die geld wat vir brandstof bedoel is, gaan uiteet nie. Dan gaan jy op ’n stadium na die restaurant toe moet loop… Maak ook seker dat jy nie gaan vakansie hou met dit wat vir jou huisverband opsygesit is nie. Oor ’n maand is die genot van die vakansie vergete, maar jou skuld hou jou snags wakker.

Gebruik wat jy het om ’n inkomste te genereer

Jy moet begin dink aan hoe jy ’n ekstra inkomste kan verdien en ’n bate met daardie inkomste kan koop sodat jy ’n nog groter inkomste kan kry. In die storie Acres of Diamonds sê Russell Conwell dat jy reeds alles in jou “agterplaas” het wat jy nodig het om suksesvol te wees. Jy het klaar die vaardighede wat jou finansiële sukses sal waarborg.

Vryheid is om nie te wag tot die einde van die maand om ’n salaris te kry nie, maar om te kan sê: “Ek het R1000 nodig, kom ek gaan doen wat ek doen en kry dan die R1000.” As jy vryheid vir sekuriteit verruil, het jy niks, want daar bestaan nie so iets soos werksekuriteit nie.

As jy egter sekuriteit vir vryheid verruil, het jy albei, want jy sal kalm en rustig wees as jy weet jy kan die inkomste wat jy nodig het, enige tyd self skep. Hierdie vryheid sal nie altyd maklik wees nie, maar daar sal baie tye wees dat jy gelukkig en vrolik sal wees en dis tog wat tel. Om dit baie eenvoudig op te som: Sekuriteit is om deur iemand anders betaal te word; vryheid is om jouself te betaal.

Wouter Snyman, attooh!

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.