Beter keuses hou Rolanda slank

0
42
rolanda.jpg

Rolanda Marais hou nie van te maer vroue nie. Die lewe is te kort om jou alle lekkernye te ontneem.

Eet gebalanseerd, maar bly weg van brood

Ek glo aan balans, alhoewel ek wegbly van brood. Dit laat my dadelik moeg voel en gewig aansit. Ek sal liewer rogbrood of Ryvita kies. Ek eet ook volgens my bloedgroep, O-positief. Vandat ek daaroor ingelig is, kan ek slimmer keuses maak oor kos. Ek sal eerder pampoen as aartappels kies, omdat dit makliker verteer word deur iemand wat O-positief is. Ek sukkel om ’n spesiale dieet te volg, want sodra ek op een is, wil ek alles eet wat ek nie mag nie. Dis vir my beter om riglyne te hê sodat ek ingeligte keuses kan maak.

Moenie jouself kasty oor stoute keuses nie

Wanneer jy iets eet wat “verbode” is, moet jy jouself nie skuldig laat voel deur te sê: “Ek moenie dit eet nie, dis verkeerd!” Moontlik maak jy jou lyf net nog angstiger oor wat jy inneem. Dan stoor hy sommer alles, ingeval jy hom as straf gaan laat honger ly!

As jy kul, geniet elke happie, maar drink die volgende dag net meer water en eet gesonder. As mollige tiener het ek gereeld by my ma gehoor ek moet ’n glas water drink wanneer ek gekerm het ek is honger. “Dalk is jy net dors,” het sy gesê. Ek doen dit vandag steeds. As ek lus kry vir iets, drink ek altyd ’n glas water eerder as om die koskas in te vaar.

Lees meer: Die slegte gewoontes wat jou vet hou.

Drink liewer tee in die winter

In die winter wil ek net hiberneer met romerige warm sjokolade, maar ek weet ook dis nie goed vir my lyf nie en dit laat my bloedsuiker die hoogte in skiet. Ek koop dus gegeurde tee en drink liewer meer daarvan as wat ek elke aand warm sjokolade sou drink. Gegeurde tee is baie lekker; ek drink dit sonder melk of suiker.

Gee my eerder joga as die gym

Ek hou glad nie daarvan om by ’n gimnasium te oefen nie. My knieë is ook te swak vir draf; daarom geniet ek dit om joga toe doen. Dit hou my spiere soepel en laat my lief voel vir die lyf waarin ek gebore is. Joga gee my ’n positiewe ingesteldheid. Oefen en gesond eet loop vir my hand aan hand. Dit stimuleer die organe en help ’n mens om van gifstowwe ontslae te raak. Bikram joga, wat in ’n verhitte kamer aangebied word, is vir my die ideale oefening in die winter.

Lees ook: Leandi du Randt se geheim vir ’n plat magie.