Bev Missing: Help ander, help jouself

0
86
bev_missing.jpg

Vir Bev Missing, die stigter van Rain Africa, is spanwerk, bemagtiging en deeglike opleiding nie net die hartklop van ’n onderneming nie, maar die spil waarom die lewe self draai.

’n Aanhaling waarom ek my onderneming gebou het, is ...

We make a living by what we get, but we make a life by what we give. Winston Churchill het dit gesê. Dit is hoekom ons besluit het om handgemaakte verpakking vir ons produkte te gebruik. Dis eintlik ongewoon in die spa- en skoonheidsbedryf waar massaproduksie die norm is, maar dit skep werk vir minder bevoegde of bevoorregte mense, en dit bemagtig vroue. En dít vorm deel van my visie.

Van die belangrikste lesse wat ek geleer het, is ...

Laat jou passie jou dryf. As jy nie passievol is oor wat jy doen nie, gaan jy nie deurdruk of dit geniet nie. Jaag jou drome na. Vertrou jou instink. Glo in jou vermoëns, maak nie saak wat ander sê of hoeveel teenkanting jy kry nie. As dinge nie uitwerk nie, probeer weer! Moenie jammer voel vir jouself nie. Omring jouself met mense wat dieselfde ideale as jy het.

Die beste advies wat ek ooit gekry het, is …

Psalm 118 vers 8: Plaas jou vertroue op God en nie op mense nie. ’n Vorige pastoor van my het my eendag uit die bloute gebel en gesê dié psalm is God se woord vir my. Die tydsberekening was so gepas! Mense is nie perfek nie en maak foute, maar God sal ons nooit in die steek laat nie. Dit is ’n belangrike ding om te onthou, veral in besigheid.

Om ’n maatskappy internasionaal uit te brei, moet jy ...

’n Bietjie mal wees in jou kop! (Sy lag). Jy moet ook senuwees van staal hê en nie eintlik bewus wees van al die uitdagings wat vir jou wag nie. Ernstig nou, ek glo in Nike se leuse: Just do it! Ek kan ’n bietjie baasspelerig wees en wil alles dadelik hê. As ’n mens hierdie eienskappe reg aanwend, kan dit jou help om jou drome te verwesenlik.

Om ’n maatskappy suksesvol te bestuur, moet jy ...

Elke werknemer respekteer vir die mens wat hy of sy is. Help hulle om hulle volle potensiaal binne die raamwerk van jou maatskappy te bereik. Lei jou werkers op; hulle moet kennis hê omtrent jou maatskappy en produk. Elkeen van ons werknemers stel ons produkte persoonlik op die proef. Bou vir jou ’n wenspan van talentvolle mense wat jou visie deel. Moenie huiwer om hulle te vergoed as jy sukses behaal nie.

My grootste uitdaging tot dusver was ...

Om die besigheid op ’n “brood-en-botter”-begroting uit te brei! Ek het ’n groot visie, en baie drome en ideale. Om die finansies daarvoor te genereer is egter deurentyd ’n uitdaging. Maar dis deel van die pret en die realiteit van enige entrepreneur. Dan moet ek ook probeer om my kreatiwiteit te behou terwyl ek verskeie klippe uit die pad rol, en dis nogal vir jou ’n ding!