Bevorder jou stad se belange

“ Bevorder die belange van die stad..(daar waar jy bly, daar waar jy werk)…bid tot My  vir daardie stad want sy belange is ook julle belange.” Vry vertaal uit Jeremia 29:7

Terwyl my leesstuk my neem na Jeremia, onthou ek skielik ‘n preek een jaar tydens ‘n pinksterreeks. Ons verantwoordelikheid ten op sigte van die plekke waar ons beweeg. As ek daaroor dink dat my dorp se belange ook God se belange is dan kyk ek dalk ‘n bietjie anders. Dan is ek nie net daar om te kry nie, maar om iets te gee. Nie net om te kla nie maar met ‘n soekende oog waar ek ‘n verskil kan maak in ‘n wêreld wat swaarkry.

Die vraag is hoe doen ek dit?

Waarskynlik nie deur negatiewe gedagtes te kweek nie. Ook nie deur dinge aftebreek of mense aftekraak nie. My pa glo daaraan dat ‘n mens iemand moet uitvang wanneer hy iets reg doen, dit raaksien en komplimenteer. In ‘n gesprek oor wat jou vreugde gee, vertel een van my orkeslede, wat reeds twee kinders aan die dood afgestaan het en eintlik steeds swaar kry, dat hy geleer het om vreugde te vind wanneer hy iets goed doen aan iemand anders. As daardie persoon beter voel, verskaf dit hom vreugde te midde van sy eie seerkry. Dis dalk ‘n verandering van gesindheid wat ons nodig het om regtig voluit te leef. Om uit ons gemaksone te klim en te besef dat ons hier is om anders te kyk, te dink en te doen.

In die Jeremia verhaal kom die opdrag uit ‘n brief aan die ballinge wat nog oor was. Dis ‘n tyd en ‘n plek waar nie een van hulle wou wees nie. In Babel! Tog is daar vir hul ‘n roeping, ‘n nuwe taak. Om te bou, huise aan te lê, te trou en kinders in die wêreld te bring..en die belange te bevorder daar waar hul is.

Miskien kan ons ‘n verskil maak aan die skoonmaker, die koerantverkoper of petroljoggie deur selfs net vriendelik te groet, belang te stel en om te gee. Iemand in die verkeer te verras met  ‘n plek, by die betaalpunt iemand se brood te betaal. As ons wegkyk van onsself en met ‘n bietjie meer dankbaarheid na die lewe kyk, mag vreugde dalk meer gebore word en kan ons dit regkry om die belange te bevorder  van die plek waar ons bly, daar waar ons werk, en uiteindelik van die sonskynland waarin ons bly.