Bevry van die vrees vir verwerping

0
17
week_1_verwerping.jpg

Is jy oorbewus van wat ander van jou dink? Is jy bang mense sal jou verwerp? As jy wil vry word van hierdie las, volg ons dag-vir-dag-plan. Dit sal jou bevry om waarlik jouself te wees.

Miljoene mense se optrede word daagliks deur een groot vrees bepaal: “Wat sal die mense dink?”.

Hierdie angs om uit die groep verstoot te word, kom al uit die oertye, meen kenners. Want in daardie primitiewe dae was die kans om teen wilde diere en die elemente te oorleef baie groter as jy deel van die clan was. Deesdae bondel ons nie meer in troppe saam om te keer dat leeus ons verslind nie, maar ter wille van sosiale oorlewing – om in te wees.

Om aanvaar te word, raak nie net alledaagse besluite soos die klere wat jy aantrek nie, maar ook lewensveranderende besluite. Soos die beroep wat jy kies, die skool waarheen jy jou kinders stuur, die woonbuurt waarin julle bly en die vriende waarmee jy jouself omring. En as jy nie oppas nie, doen jy ’n onbevredigende werk, met ongelukkige kinders, in ’n huis wat glad nie na jou smaak is nie om vriende te beïndruk van wie jy nie werklik hou nie.

Nie almal gaan so ver nie, maar jy kry die prentjie … Vir die vryheid om voluit en gelukkig te leef, volg nou die vyfdagplan hieronder.

Dag 1: Maak ’n lysie van al jou vrese

Die gemiddelde mens het sowat 66 000 gedagtes per dag, waarvan tot tweederdes op vrees gegrond is. Dalk is jy enkellopend en wil jy nie alleen wil gaan fliek of uiteet nie. “Want mense sal dink ek het niemand om mee uit te gaan nie … ”

Opdrag:Maak ’n lysie van die dinge wat jy doen omdat jy bang is wat ander van jou gaan dink. Kyk na elkeen van jou vrese en vra jouself of dit werklik so erg is. Sodra jy jou optrede ontleed, sal jy besef dat die meeste van jou sosiale fobies ongegrond is. Almal is te besig met hul eie bekommernisse om op te let of jy die jongste modegier aan jou voete dra of alleen by ’n tafel sit.

Dag 2: Stel jou visie van die toekoms saam

Mense wat ’n lewensgevaarlike situasie oorleef het, vertel dikwels dat hulle nog nooit soveel helderheid gehad het as in die sekondes wat hulle die dood in die gesig gestaar het nie. Dan val alles weg behalwe dit wat werklik belangrik is.

Opdrag:Leef jouself in dié situasie in: Jy hang oor ’n afgrond en sien jou lewe voor jou verbyflits. Waaroor is jy spyt? Wat sal jy wou verander? Wat wil jy nog bereik? Hieruit kan jy vir jouself ’n visie formuleer. Dit moet iets wees wat jy kán en wíl doen.

Dag 3: Sê totsiens vir al die moets en moenies

Dit wat ons glo ander van ons dink, verhoed ons om dit te doen wat ons regtig wil aanpak. “Ek kan nie inskryf vir die pretdraf nie, want my kinders sal hulle vir my skaam,” maak jy dalk verskoning.

Opdrag: Vra jouself af wie die “hulle” is wat jy so graag tevrede wil stel. Is dit jou familie, vriendekring, kollegas of dalk ’n onbekende groep mense daarbuite? Gaan jy toelaat dat hulle jou lewe beheer? Is jou antwoord “nee”, besluit dan op een ding wat jy nie  langer gaan doen nie net omdat ander dit van jou verwag. In plaas daarvan om jou tyd en energie te vermors op iets wat jy haat om te doen, kan jy nou meer aandag aan jou passies gee.

Dag 4: Word weer soos ’n kind wat leer

Toe jy ’n kleuter was, het jy die een leerervaring na die ander baasgeraak. Jy het leer kruip, loop, self eet en praat. Elke dag was vol uitdagings. Maar jy het nie daarvoor teruggedeins nie. ’n Jong kind verstaan nie mislukking nie. Alles is moontlik en as jy dit nie vandag regkry nie, probeer jy môre weer.

Opdrag: Doen vandag een ding omdat dit vir jou lekker is. Selfs al dink ander jy is simpel.  Koop roomys op ’n koue wintersdag of ry op ’n fiets om die blok. Verbeel jou jy is weer vier jaar oud en tree op asof dit onmoontlik is om te misluk.

Dag 5: Waardeer jouself as jou eie goeie vriendin

Miskien plaas jy té veel klem op wat ander van jou dink, omdat jy nog nooit geleer het om jou eie beste vriendin te wees nie. As jy nie tevrede is met wie jy is en wat jy jouself kan bied nie, gaan jy heeltyd na ander se goedkeuring soek.

Opdrag: Skryf ’n brief aan jouself asof aan ’n goeie vriendin. Sê waarom jy dié vriendin waardeer en besing haar positiewe eienskappe. Jy moet iets goeds oor jouself kan sê, soos dat jy lekker kosmaak en ’n goeie ma is. Bederf nou die vriendin (jouself) met iets waarvan sy rêrig hou. As jy al genoeg waagmoed opgebou het, neem haar vir koffie en kuier rustig met jouself.

Niemand kan jou belowe dat dit maklik gaan wees om vry te word van die vrees vir verwerping nie, maar jy is dit aan jouself verskuldig verskuldig om ten minste te probeer. Vir God is jy klaar perfek, nou moet jy dit self net glo en uitleef.