Beweeg aan na jou egskeiding

0
16
egskeiding_2.png

Dis sleg vir die kinders as jy nie weet hoe om die egskeidings te hanteer nie.

Vergeet van die doemprofete wat jou vertel dat jou pad as geskeide die klipperigste sal wees wat jy al teëgekom het. Ja, dit is sleg, swaar en vol uitdagings! Maar dit is nie onoorkomelik nie, sê Suzette van der Merwe, voormalige Mej. Suid-Afrika en iemand wat self die pad gestap het.

’n Egskeiding is vir jou kinders die moeilikste

Die impak van egskeiding word die swaarste deur kinders gevoel, gesels Suzette. “Kort na my egskeiding het ek agtergekom dat my kinders Graydon en Skye met tye gefrustreerd, kwaad en ongeduldig is. In een stadium het Graydon my ’n leuenaar genoem en dat ek ‘lelike goed van sy pa sê’ nadat ’n onverwagse artikel oor die egskeiding in ’n Sondagkoerant gepubliseer is. Hoe verwerk jy die seer van so ’n aantyging? Jy doen nie! My raad is om dit met versigtige eerlikheid te hanteer. Die versoeking was daar om hom alles te vertel … maar ek het bloot gesê: ‘Jy weet dat ons baie gestry het. Ek én jy het die reg om hartseer en teleurgesteld te voel. Dit is moeilik om te verstaan en jy is baie dapper in die omstandighede.’ Moet nooit beskuldigings maak nie, wees eerlik maar hou jou verduidelikings kort.”

Antoinette Pelser van Vanderbijlpark ken ook die egskeipad. Jy cope net met Jesus aan jou hand, sê Antoinette wat van haar dogter, Alecia Lombard (13), se pa geskei is toe sy net drie jaar oud was. “Ek het myself in die slegte tyd aan Hom opgedra en geglo Hy sal my daardeur kry … en Hy het!”

Wees bereid om hulp te aanvaar

Suzette sê: “Ek was aanvanklik baie ongemaklik om hulp van vriende en familie te aanvaar. Regskoste en ’n dubbele huurbetaling het my sonder enige kontant vir die basiese dinge wat ’n huis nodig het, soos ’n strykyster en ketel, gelaat. En die ergste van alles, ek het nie ’n motor gehad nie.

“Ek sal nooit die dag vergeet toe my vriendin Efty vir my sê ek kan haar motor gebruik vir so lank as wat ek nodig mag kry. ‘Hoe kan ek dit aanvaar’, het ek in trane gewonder? My ma was saam en het bloot gesê: ‘As jy nie haar aanbod aanvaar nie, ontneem jy haar die voorreg om God se seën en oorvloed in haar eie lewe te deel.’

“Dit was vir my ’n les in nederigheid maar ook baie bevrydend om te leer dat ek maar ander se hulp kan aanvaar.”

Antoinette sê: “Ek stem saam hiermee. Na my egskeiding het ons soos kluisenaars geleef omdat ek bang was dat ons haar pa op straat sou raakloop. Hy het baie gedrink en dit het haar baie ontstel. My werk het nie goed betaal nie en Alecia was omtrent vir alles allergies. Daar was dae wat ek nie geweet het waar ek geld vir kos en medisyne gaan kry nie. Maar deur die kerk, familie en vriende het God altyd seker gemaak dat ons deurkom.”

Herevalueer en bestuur jou loopbaan

Suzette sê: “As jy lank getroud was en jou loopbaan laat vaar het om kinders groot te maak, kan jou nuwe omstandighede en geldsake ’n verwoestende effek hê.

“Ek was paniekbevange of ek my openbare skakelwerkonderneming, wat ek van die huis bedryf het, weer op die been sou kon bring sonder om die behoeftes van my kinders in te boet. Die beste raad is om jou tyd te neem en nie uit desperaatheid blindelings ’n werk te aanvaar of iets te begin nie. Jy sal waarskynlik jou rekenaarvaardighede moet opskerp. Neem ’n kursus en skryf ’n nuwe CV wat aanpas by die nuwe persoon wat jy nou is, een wat “emosionele rypheid” deur lewensondervinding gekoop het – ’n eienskap wat deur baie maatskappye baie hoog aangeslaan word. Hou jou ore op die grond en jou oë oop vir geleenthede. As jy die eerste stap neem, sal God jou oor die res van die pad lei …”

Antoinette sê: “Toe ek uiteindelik werk kry wat goed betaal, het ek skatryk gevoel omdat ek vir ’n slag my rekenings kon betaal en nog ’n bietjie ekstra kon oorhou. Ek is ook die geleentheid gegun om myself op te werk en het geleer dat dit nie nodig is om minderwaardig te voel nie … dat ek ook die reg het om suksesvol te wees en die lewe te geniet.”

Moenie alles so ernstig neem nie

Suzette sê: “My vriend Lawrence het eendag vir my gesê: ‘Don’t sweat the small stuff.’ Dis wonderlike raad! Wanneer ek ’n slegte dag beleef omdat ek as die skuldige of vir die oorsaak van omstandighede geblameer word, neem dit vasberadenheid om dit nie persoonlik aan te trek of om ontsteld te raak nie.

Antoinette sê: “Dit neem regtig bomenslike krag om weer te lag, die gevoel van verlies druk soms net te swaar. As ek nou terug kyk, weet ek dat ek nie een krisis op my eie sou oorleef nie en daarom is ek so bly ek het die pad saam met Hom gestap. Dié wete maak my gelukkig en kalm.”

Suzette sluit met die volgende wysheid af: “Jy moét ’n bewuste keuse maak om beter en nie bitter te raak nie. Vandag moet ek myself soms knyp omdat vryheid en geluk my ligter as ’n veer laat voel. As jou eks jou sleg behandel, selfs lank nadat julle geskei is, dink so daaraan: ‘Ten minste is sy optrede voorspelbaar’ … en vergeet van hom, gaan met jou eie lewe aan!”