Bid die Woord vir jou man

4557

Wanneer jou man nie meer droom oor julle huwelik nie, kan jy begin bid en alles omkeer. Liesel Krause-Wiid gee verse van krag uit God se Woord.

Wanneer hy jou met woorde seermaak

Jou man se woorde kan jou ’n vuishou in die gesig gee! Ja, woorde kan ’n mens emosioneel mishandel en in die grond vertrap.

Dalk ruk dit elke keer aan jou hart wanneer jou man jou vertel jy is nie goed genoeg nie. Of wanneer hy jou verskree as dinge nie reg verloop by die huis nie. Hy besef dalk nie eens hoe seer hy jou maak nie. Praat met hom hieroor.

Die Woord stel dit baie reguit: Laat staan al hierdie dinge: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moenie uit julle mond kom nie. Wees vir jou man ’n voorbeeld hierin.

’n Dwaas gee vrye teuels aan sy woede; ’n wyse mens kry die dwaas naderhand gekalmeer (Spr. 29: 11).

Wanneer hy jou nie soos ’n vrou laat voel nie

Wie wil nou nie soos ’n prinses deur haar man behandel word nie!

Sagte aanraking en liefdeswoorde slaan jou voete sommer onder jou uit. Maar jou man het jou jare terug laas soos ’n vrou laat voel…

Vertel jou man hoe dit jou toentertyd laat voel het toe hy jou soos ’n prinses op die hande gedra het. Moenie manipuleer of skel nie.

Gloei net oor dít wat jou destyds laat blom het!

En moet tog nie vergeet om hom soos ’n beeld van ’n man, ʼn ware heer, te laat voel nie!

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God (1 Joh. 4:7).

Wanneer jy jou man moet vergewe

Jou hart is dalk aan skerwe terwyl jy nou hier lees… Dit voel of dít wat jou man gedoen het, jou menswees finaal gebreek het. Hoe kan julle hierna verder gaan?

Stort jou stukkende hart uit voor Hom. Hy vergeet jou nooit. Hy is by jou in jou grootste seer. Sy genade is genoeg vir jou.

Jy en jou man moet dalk liewer vir hulp by ’n berader gaan aanklop. Alleen gaan julle lank sukkel om hierdie seer te verwerk.

Gee mekaar kans om daaroor te praat. Bly kalm, luister na mekaar.

Vra dan net insig en wysheid oor hoe om op te tree.

Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring (Ps. 94:19).

Wanneer alles belangriker is as sy gesin

Jy en die kinders speel gedurig tweede viool in jou man se lewe.

Hy skuif sommer maklik ’n afspraak met jou na ’n ander (of geen) datum. Hy is gedurig laat vir afsprake met jou en die kinders. En jy weet dit maak die kinders seerder as wat hy ooit sal kan dink.

Wys hom daarop dat jy liefde T-Y-D spel! Die lewe is te kort om geliefdes gedurig eenkant toe te stoot. Onthou ook, ’n afwesige pa is dalk die voorbeeld wat hy as kind gehad het.

En laat julle kinders ook hulle harte met hom deel, sodat hy sal weet hoe hulle voel.

Wie die Here dien, het daarin ’n veilige toevlug, en ooksy kinders vind daar skuiling (Spr. 14:26).

Wanneer sy werk vir hom alles is

Sommige mans is werkslawe. Hulle verloor hulleself in hulle beroep en hulle hele lewe en eiewaarde hang af van werksprestasie. Jou man raak dalk vir jou ’n vreemdeling, want hy bring al sy tyd by die werk of voor sy rekenaar deur. Elke gesprek gaan oor dinge wat by die kantoor skeefgeloop het.

Jou beroep mag nooit belangriker as jou menseverhoudings word nie.

Ons dien ’n Skepper van verhoudings! Party mans het ’n obsessie met hulle werk omdat hulle voel hulle moet die gesin onderhou. Help hom onthou om te rus in sy Maker. Natuurlik is werk belangrik, maar Hy bly ons groot Voorsiener.

“Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Luk. 12:34).

Wanneer hy nie met jou ouers klaarkom nie

Dis elke vrou se droom dat haar man met haar familie oor die weg moet kom, maar nou voel jy so verskeurd tussen jou ouers en jou man. Jy moet alewig middelman speel om almal rondom jou gelukkig te hou.

Dit breek jou hart as jy nie die mense vir wie jy so lief is, by mekaar kan uitbring nie. Jy sal wát gee sodat jou man en jou ouers net lekker saam kan kuier!

Deel jou hart met jou man. Vertel hom hoe lief jy hom én jou ouers het. Besluit op ’n aantal naweke per jaar wat julle saam kan kuier.

Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie (Kol. 3:19).

Wanneer jou man baie stres

Gaan jou hart ook uit na jou man wanneer hy so stres? Dis aaklig om die liefde van jou hart so gespanne te sien! Stres verander jou man in ’n wildvreemdeling, vreet sy gesondheid op en steel sy lewensvreugde.

Goeie nuus: Daar is baie wat jy vir jou man kan doen! Luister na hom, skep ’n veilige ruimte waarin hy kan praat oor die dinge wat hom so opvreet. Ondersteun hom in alles. Kry hom sover om met ’n oefenprogram te begin, gesond te eet en genoeg slaap te kry. Dit verlig stres.

Van ver af het die Here Hom aan Israel bekend gemaak: Ek het jou nog altyd liefgehad, daarom het Ek jou met geduld verdra (Jer. 31:3).

Wanneer hy sy lus vir die lewe verloor

Dit laat jou sommer soos ’n nat vadoek voel as jou man sy passie vir die lewe verloor. Sy lusteloosheid en traagheid om voluit te leef steel stadig maar seker jou laaste druppel lewenslus.

Onthou, dít wat jy jou verstand ingee, is net so belangrik as dít wat jy jou liggaam ingee. Die boeke wat jy lees, die mense met wie jy praat, die musiek waarna jy luister en die flieks waarna jy kyk – dit alles vorm deel van jou geestelike dieet.

Bid dat hy opnuut sy Pa se plan met sy lewe sal ontdek. Met ʼn nuwe visie sal hy sy passie vir die lewe terugkry.

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Fil. 4:13).

Wanneer hy nie sy emosies wys nie

Baie mans sukkel om hulle emosies te wys. Jou man se “gebrek” aan emosie dryf jou teen die mure uit. G’n trekkie op sy gesig verraai hoe hy voel nie. Hy vat nie meer aan jou nie, vererg hom nie, wys nie as hy bly is nie… As hy tog net sy hart met jou wil deel!

Jy kan nie jou man dwing om sy emosies te deel nie, maar jy kan wel verduidelik hoekom dit belangrik is. Sê vir hom jy wil graag dít wat binne hom aangaan, beter leer ken en verstaan. Jy weet dis moeilik vir hom, maar jy wil graag probeer.

Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde (Ps. 147:3).

Wanneer hy geestelik op ’n ander vlak is

Niks sal jou gelukkiger maak as diep geestelike gesprekke met jou man nie – om met hom te gesels oor jou beste Vriend se goedheid en grootheid.

Maar hy is nie op jou golflengte nie. Geloof is nie iets waaroor hy sommer praat nie. Of hy dink godsdiens is iets persoonliks tussen mens en Skepper.

Moenie hom dwing om sy geloof uit te leef op ’n manier wat hom ongemaklik laat voel nie. Dit kan hom dalk net wegstoot van jou en hom van sy Verlosser vervreem. Neem klein geloofstreetjies saam met hom. Oppas om nie geestelik hoogmoedig voor te kom nie.

Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word (Matt. 5:6).