Bid is Braaf – vind jou identiteit en waarde in God!

Lisa Bevere het een keer gesê: “Because she competes with no one, no one competes with her”.

Dit sê dit vir my eintlik so goed, want as ons nie in kompetisie met iemand is nie, kan niemand in kompetisie met ons wees nie. Hoe vind ons ons identiteit en waarde in Jesus Christus? Ek wil hê jy moet vir nou dink aan die vrou in Johannes 8 wat op owerspel betrap is:

 ‘3Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe ‘n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan. 4Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. 5Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?”

6Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. 7Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.”’

8Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe. 9Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense. 10Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”

11“Niemand nie, Here,” sê sy.

Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

 (Johannes 8:3-11)

Soms is ons soos daardie Fariseërs. Hoekom sal ek so sê? Want daar is twee redes:

1 Ons gooi onsself met klippe

Ons gooi soms onsself met klippe, m.a.w. ons boelie onsself. Gewoonlik as ons dit doen kom die volgende paar vrae by ons op:

  • Hoekom lyk dit of ek niks reg kan doen nie?
  • Hoekom lyk ek nie soos daardie meisie nie?
  • Hoekom kan ek nie die lyf hê waarmee ek eintlik gelukkig gaan wees nie?
  • Hoekom kan ek nie beter op skool, universiteit of by die werk presteer nie?
  • Hoekom is daar niemand wat in my belangstel of met my wil uitgaan nie?
  • Wat is fout met my?

Ons wens partykeer dat ons net beter kan wees of dat ons soos iemand ander kan wees of anders kan lyk. Dit veroorsaak dat ons soveel druk op onsself plaas. Kyk jy dalk ooit in die spieël en sê iets goed oor jouself, soos bv. “Ek kan enige iets doen!”?

Die hartseer ding is dat die wêreld uit soveel leuens bestaan, nl. Satan se leuens wat vir ons sê dat perfeksionisme haalbaar of verpligtend is, soos om bv. die perfekte “bikini-lyf” te hê of om die perfekte hare te hê, of om by die perfekte universiteit in te kom. Perfeksionisme is ’n abstrakte idee en ons streef soms na daarna. Die probleem is juis wanneer ons nie hierdie perfeksie bereik nie, hou ons aan om intensiewe druk op onsself te plaas – dit kan stresvol wees – terwyl God ons eintlik net vra om net ons beste te doen. Foute is deel van die lewe en almal maak foute. Om foute te maak, maak nie noodwendig van jou ’n mislukking nie.

Hoekom laat ons dit toe om onsself eerder met klippe te gooi as om God toe te laat om ons op te tel en ons in die regte rigting in te lei? God het ons dan op so ’n wonderlike manier geskape dat ons vriendelik en barmhartig met onsself kan wees. Ons moet ons identiteit en waarde in God vind, want God gee ware goddelike selfvertroue.

2 Ons gooi ander meisies/vroue met klippe

Hoekom gooi ons soms klippe na ander meisies/vroue? Waarom doen ons dit op ’n aanhoudende en gereelde basis? Daar is net een antwoord op hierdie twee vrae en dit is a.g.v. ons eie onsekerhede (“insecurities”). Wat veroorsaak hierdie onsekerhede in ons harte? Die feit dat vrouwees een groot kompetisie geword het veroorsaak onsekerhede in ons harte. Ons gooi dan ander met klippe (in hulle gesigte of agter hulle rûe) omdat ons sleg voel oor onsself.

Vroue wat selfvertroue het (wie hulle identiteit en waarde in Jesus Christus gevind het) probeer nie om ander af te kraak/af te breek nie. Die rede hoekom ons ander vroue met klippe gooi (hulle afkraak/afbreek) is omdat ons oor onsself sleg voel. Ons wil ander dan saam met ons ondertoe trek. Dus sal jy erken dat jy nog nooit beter gevoel het wanneer jy ander mense met klippe gooi nie. Jy voel eintlik net slegter oor jouself en jy kom maar net nie uit daardie gat nie.

Hoe dryf ons onsekerhede uit ons lewens uit?

  1. Ons moet bid en God vra om ons te genees van ons onsekerhede wat ons oor onsself in ons lewens en in ons harte het.
  2. Ons moet ons onsekerhede identifiseer in ons lewens en God vra om daar waar ons onsekerhede lê te kom vul met Sy goedheid en liefde. Dit is nou daardie plekke waar jy voel jy is minder as, of waar jy voel dat ander meisies/vroue beter, sterker, mooier of snaakser as jy is. As ons sekerheid het met ons egte identiteit as dogters van God nie, kan ons nie rus en vrede in ons harte hê nie. Ons sal nie vroue wees wat vreedsaam leef of daarna streef om beter te wees in ons verhouding met God eerste en dan met ons medemens nie. Ons bly dan meisies/vroue wat vasgevang word in ’n situasie waar ons altyd ander meisies/vroue wil afkraak. Jou egste en diepste identiteit lê daarin dat jy ’n dogter van die Koning van alle konings is en dat jy deur God se wonderlike genade deur Jesus Christus gered en uitgekies is. Ons leef dit wel nie uit as ons heeltyd mekaar probeer afbreek of afkraak nie. Wanneer ons na ons eie onsekerhede kyk moet ons Jesus vra om daardie gebroke plekke in ons lewens te kom genees.
  3. Ons dryf ons onsekerhede uit ons lewens uit wanneer ons ’n lewe van gebed aanneem. Daar gebeur so baie dinge in ons daaglikse lewe, nl. jy moet swot, werk, leer vir ’n toets, jy moet by jou vriende uitkom of vir jou naels/ facial gaan, dat God baie keer ’n nagedagte word. Ons dink dan dat ons later by God sal uitkom, maar wanneer jy in die bed klim en wil Bybel lees voor jy slaap voel jy dan skielik te moeg of jy knip jou persoonlike Bybelstudie kort en vergeet soms om te bid. Ons kan net ons ware, egste en diepste vorm van ons identiteit onthou wanneer ons saam met God stap en tyd vir Hom maak.
  4. Onsekerhede kan uitgedryf word deur bevestiging. Sê hierdie vir jouself sodat jy jouself op ’n daaglikse basis kan herinner wie jy is en wie God jou gemaak het om te wees:

“My naam is ………………………….. en ek is lief vir myself en ek aanvaar myself. My naam is ……………………………… en ek is ’n pragtige, beeldskone en stralende dogter van God!”

Die bostaande bevestiging is baie waar, maar hoe gereeld glo ons dit? Hoe gereeld het ons onsself waarlik lief en hoe gereeld aanvaar ons onsself waarlik? Hoe gereeld glo ons dat ons mooi en stralende dogters van God is? God praat steeds streng/ferm met die vrou in Johannes 8, al kom Hy in liefde en vriendelikheid na haar toe. Hy sê dus vir haar om te gaan en nie meer te sondig nie.

Jou identiteit as dogter van God maak jou sterk. Jou identiteit as dogter van God is kragtig, want dit bemagtig jou om ’n lewe te leef as ’n meisie/vrou wat in haarself glo en sy is ook wie God haar gemaak het om te wees. Jou identiteit as dogter van God maak jou sterk. Dit maak jou dapper/moedig/onverskrokke. Dit maak jou wie jy is.

Liefde,

Leandie