Bid opreg vir ’n wonderwerk

3399

In die flou maanlig het die seewater kalm gelyk. Niks kon reddingswemmer Kobus Meyer egter voorberei vir wat agter die “kalm” golwe sou wag nie.

Ek en die ander vrywilligers van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die noodoproep net voor middernag gekry. Die Turkse vragskip, Seli 1, was in groot gevaar.

Ons reddingsboot het pas ’n draai na die oop see gemaak toe die eerste vyf meter hoë brander vanuit die niet oor ons breek. Albei enjins het uitgesny. Ons het dit net weer aan die gang gekry toe die volgende reusagtige brander oor die boot slaan. Weer was die enjin dood. Ons was in groot gevaar! Ek het stil gesmeek: “Here, help ons asseblief!”

Dit was stikdonker en onmoontlik om te bepaal waar die volgende golf vandaan sou kom of waar die rotse was. Ons kon ook nie terugdraai nie, want die branders was eenvoudig te groot. My gebede het desperaat geraak: “Here, as U my nou kom haal, maak dit asseblief net vinnig, want ek wil nie vanaand stadig in hierdie storm verdrink nie.”

Ek wou so graag net ’n teken hê dat Hy my hoor. Toe tref nog ’n brander ons. Dié keer het die boot hoog die lug in geskiet. Dit het gevoel asof ons agteroor gaan kantel, maar genadiglik het die boot regop teruggeval. Die enjin was nou onder water en heelwat moeiliker om weer aan die gang te kry.

Ons knap spanleier, Myck Jubber, het uiteindelik daarin geslaag om die boot tot agter die branders te bring. Vir ’n oomblik het ons almal in stilte na mekaar gekyk, en toe tegelyk begin praat.

Die bemanning op die vragskip was ons prioriteit, en die res van die reddingspoging het nog voorgelê. Ek het besef dat ’n Groter Hand ons uit die gevaar gered het en weer gepleit om beskerming vir dit wat gaan kom.

By die vragskip, omtrent ’n kilometer van die kus af, het die NSRI se groter boot reeds vir ons gewag. Dit was egter lewensgevaarlik om teen die touleer na die vragskip toe oor te klim. Die kragtige branders kon jou diep die see inslinger of die twee bote kon jou vaspen.

Iets binne my het bly sê dat ons nie die bemanning op die vragskip net so kon los nie. Ek en die insidentbevelvoerder het gepraat, en ek het besluit om die kans te waag en oor te klim.

Myck het ons boot vernuftig tot teenaan die touleer gebring. Halfpad op pad boontoe het ek afgekyk. Doer onder het ons bootjie piepklein gelê.

Ek het toe al 25 bemanningslede op die vragskip na veiligheid gehelp en ons kon met die groter boot na die hawe terugkeer.

Net voor sonsopkoms het ek by die huis ingestap. My vrou, Truia, het my ingewag en ek het haar van ons skrikwekkende reddingspoging vertel.

Truia het haar Bybel nadergetrek. Toe wys sy vir my die gedeelte waarmee God haar daardie nag getroos het. Dit was Psalm 107:23-29:

“Party het met skepe die see bevaar en hulle bestaan op die groot waters gemaak. Hulle het die werk van die Here ervaar, sy wonderdade op die diep waters.

“Op sy bevel het ’n stormwind opgesteek en die golwe opgejaag. Die skepe het hemelhoog gestyg en na die dieptes afgeduik. Die bemanning was radeloos van angs en het soos dronk mense gesteier en gewaggel; al hulle seemanskuns het niks gehelp nie.

“Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei. Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar…”

Daardie nag het ek besef dat God wel gebede verhoor. En al voel jy alleen, Hy is daar, in die middel van die storm.

Bid só vir ʼn wonderwerk

Baie mense gebruik die “Ons Vader”-gebed om iemand te leer bid, presies soos Jesus dit gedoen het. Jy moet egter besef dat hierdie gebed vir die dissipels gegee is voor die kruisiging, want die dood en opstanding het alles verander.

In die “Ons Vader” vra ons “vergeef ons ons oortredings”. Maar hierdie gebed is mos klaar beantwoord vandat jy jou lewe vir Hom gegee het. Jou sondes, selfs dit wat jy dalk môre en oormôre gaan doen, is klaar vergewe.

Jou versoek om “van die bose” verlos te word, is ook reeds beantwoord. In Jakobus 4:7 lees ons: “weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug”.

Jy hoef nie meer vir jou “daaglikse brood” te bid nie. Toe jy Hom jou Koning gemaak het, het jy ’n mede-erfgenaam van alles geword. Jou Vader het mos vir jou baie meer as jou daaglikse brood gegee!

Jesus het so baie vir jou gedoen. Laat jou gebede in lyn wees daarmee. Moenie net bid soos wat iemand jou geleer het nie. Bid opreg en uit jou hart uit.

Lodewyk Spies