Bitcoins

0
189
bitcoins

Almal praat oor bitcoins, maar baie van ons weet nie mooi wat dit is nie.

As jy dit gaan google, sal jy agterkom dat dit ‘n digitale geldeenheid is wat sonder enige sentrale bank of administrateur werk. Die rede waarom baie mense steeds skepties is oor bitcoins, is omdat daar geen waarborg is dat dit waarde het nie. Dit is ook hoekom dit so moeilik is om die waarde daarvan te bereken. Dit verklaar ook waarom die prys so op- en afgaan, want dit is in ooreenstemming met die marksentiment wat op die een oomblik positief is en die volgende oomblik weer negatief. Ons wil mos waarborge hê en ons het dit nie in bitcoins nie.

Interessant dat dit ook in die geestelike wêreld waar is. Ons soek waarborge. Daarom skryf Paulus vir ons in 2 Korintiërs 1:21-22 dat ons inderdaad ‘n waarborg het in die geestelike lewe. Hy sê: “God het ons vir Hom afgesonder, ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang.”

God het vir ons die Heilige Gees gegee net soos Hy beloof het, en dit is ‘n duidelike waarborg vir ons dat God ook al die ander beloftes wat Hy vir ons gegee het, ook net so waar sal maak! Die ewige lewe by God is ‘n werklikheid.