Blink jy of straal jy?

278

Het jy geweet dat ’n olierige vel eintlik ’n bate kan wees? Mits jy dit natuurlik goed versorg.

’n Olierige vel word veroorsaak deur oormatige afskeiding deur die oliekliertjies in die vel. Die opeenhoping van olie op die buitenste vellaag kan witkoppies, swartkoppies, blinde puisies, aknee en ander irritasies, soos ’n blink gesig, veral op die voorkop, neus en ken, tot gevolg hê.

Natuurlik hou niemand daarvan nie. Die goeie nuus is egter dat ’n olierige vel geneig is om beter te verouder en minder plooie te ontwikkel as ’n droë of normale vel. Hoe jy daarna omsien, sal deurslaggewend wees.

Volg ’n gereelde velsorgroetine. Moet nooit met grimering aan gaan slaap nie. Vermy reinigingsmetodes wat te sterk is en middels wat ’n hoë seep- of alkoholinhoud het en te min bevogtiger bevat.

Gebruik produkte wat jou vel beskerm en sagkens werk om die olieafskeiding te balanseer, die suur-alkali-balans te herstel en dooie vel te verwyder. Druk die vel droog eerder as om dit hard droog te vryf.

Oormatige reiniging en die verkeerde produkte stroop die vel van sy natuurlike olies en laat fyn plooitjies ontwikkel. Om dehidrasie te voorkom en die balans te probeer herstel, vervaardig die oliekliere nog meer olie. Alhoewel jou vel droog en styf voel, lyk dit blinker. Dit veroorsaak dat dooie vel jou porieë verstop, swartkoppies laat ontstaan en tot vergrote porieë en puisies lei.

Gebruik ’n dagroom en ’n nagroom om jou vel te voed sodat dit nie so baie olie hoef te produseer nie. ’n Reinigingslappie en poeier sal help as jou T-strook – voorkop, neus en ken – deur die loop van die dag begin glinster. Indien jy ’n goeie versorgingsroetine volg, sal jou olieproduksie na sowat drie maande begin stabiliseer, wat die probleem behoort op te los.
 

Karien Henrico, somatoloog

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Karien.