Bloed wat kook

My vrou vra my om tekkies wat volgens die kinders nie in die mode is nie, te gaan teruggee. Ek stem in, maar ek moet bieg ek is nie te opgewonde om dit te doen nie.

Sy gee my haar kredietkaart, want hulle benodig dit gewoonlik om die geld op die kaart terug te plaas. Baie vriendelik kom ek op die kliënte- toonbank afgestap, maak ’n grappie oor die kinders wat vandag nie kan besluit wat hulle wil hê nie, ek wat so nice is om vir my ou vroutjie die goeie daad van die dag te doen en dat ek so slim was om haar kaart by haar te kry vir die oorbetalingslag.

Sonder om te blik of te bloos of te groet, sê die dame met ’n straight face vir my dat sy nie kan nie. Ek maak nog ’n grappie van iets van nie haar dag vandag nie, of so iets. Sy lag nie en beweeg ook nie ’n spiertjie nie. Beleefd vra ek vir die dame of daar ’n probleem is. Sy sê baie saaklik dat sy dit nie kan terugneem nie, want dit is my vrou se kaart. My bloed begin liggies kook. “Maar dame,” sê ek, “ek wil nie iets koop nie. Ek wil iets teruggee.” Sy bly stil. My bloed kook nou so bietjie meer. So by my kool weet ek dat hulle nooit kyk wie se kaart dit is nie.

Ek weet ook uit baie ondervinding dat hulle nooit kyk na die handtekening op die strokie nie, want keer op keer het ek al Superman, Batman, mnr. Mandela, Tokyo Sexwale, Pravin Gordhan, ens. geteken en nog nie één kéér het hulle dit raakgesien nie. Hoekom dan nou my vrou se handtekening? Die bloed het erg begin kook. Jy kon dit sien in my gesig. Dit was rooi, bloedrooi. In my geestesoog het ek al gesien wat ek met die skoene en die dame agter die toonbank kan doen. Wel, kom ek los die verhaal maar net eers hier en sê net dat ek ’n tydjie daarna, na ’n indringende gesprek met die bestuurder, met my vrou se kaart én die skoene by die deur uit is.

Ek wonder soms hoekom ons so gemaak is dat die bloed so gou aan die kook raak.

Ek het al ’n paar maal in my lewe in die gat getrap. Met al die ondervinding in my lewe doen ek dit eintlik goed. Ek besef weer dat daar nie eintlik wenners is as ek my oorgee aan selfgesentreerde vergeldingsgedrag nie (want dit is presies wat dit is).

Ons weet dis nie reg nie. Ons moet eerder ons bes probeer om dit so te doen. Trek maar die leisels eers ’n bietjie vas. Byt op die stang en byt hard. Moenie toegee aan jou eie lus om terug te gee, te gooi of te slaan nie. Om die draai sal dit beter gaan. Gee dit net ’n kans. Reg?