Blupse, blapse, send

tikfout
Tikfout

“Oky ek gaan nou oortree, wees oor so uur reg om my te kom kry.”

My oë trek skoon skeef soos dit rem by die woord oortree. Ek weet matrieks wil mos maar vir ou laas, voor hul skool finaal groet, so ietsie stouts aanvang.

Maar, daar was al vorige jare matrieks wat as gevolg van hul óórtredings, geweier is om hul matriekafskeid by te woon. Dus, sien ek al in my verbeelding hoe ons moet opdok vir ’n matriekafskeidrok en al die toe- en bybehore, sonder ’n matriekfskeid. My verbeelding strek oor orkaan-verwaaide vlaktes en ’n stormsee van emosies. Ek staar sommer al bakrotskap in die gesig.

Wat gaan die kind tog aanvang? Ek bel. Ek stuur boodskappe. Maar al wat antwoord, is sy. Ek soek haar op ‘Find my friends’. Sy is by die skool.

O.

In my verbeelding het sy skool geslip en haar foon in haar tas gelos. Dit maak darem nie sin nie. Dis nie juis in die karakter van ’n tiener om sonder hul fone rond te beweeg nie.

Uiteindelik, na seker ’n halfuur se angsaanvalle, kom dit uit dat sy gaan optree het vir haar drama eksamen en toe nooit, oortree het nie.

Ek is wel later baie deeglik daarop gewys dat, as sy wou oortree, sy my nie sou laatweet het nie…

Ook waar!

Wel. Blameer dit op die drukkersduiwel. Of seker eerder die vingerfoutduiwel, die tikfoutduiwel en selfs die autocorrect-duiwel. Deur net een lettertjie, baie perongeluk verkeerd te druk, kan mens nogal lelik in die stormwaters van ’n groot ongemaklike verduideliking laat beland.

’n Ruk gelede het ek en ’n vriendin ’n afspraak. “Hier,” stuur ek my boodskap aan haar. Maar, in plaas van die ‘i’ land my vinger op die ‘o’. Ek gaan nou nie sulke taal herhaal op die oopste van ruimtes, naamlik die sosiale media nie.

Om een of ander onverklaarbare rede lê die i, o en p langs mekaar op die sleutelbord en ‘o’ is altyd die skuldige letter.

Gelukkig het my vriendin die boodskap ontvang en natuurlik het ons omtrent ons hele afspraak lank gegiggel oor my tikfoutjie.

Daar was al talle vingerfoutblapse. Ek het al ge-‘dien’ in plaas van ge’sien’. En, het al amper aan ’n man wat herstelwerk aan ons huis moes kom doen, ’n boodskap gestuur: “Soen jou 3 uur.” In plaas van ‘sien’ (weer die ‘o’). Wonder of die man opgewonde of verskrik sou gewees het, sou die ‘soen’ boodskap by hom uit gekom het?

Dit laat my dink dat die selfoonboodskap meer gevaarlik as die gesproke woord kan wees. Met die misglip van jou vinger kan jou boodskap by die verkeerde ontvanger ook uit kom. Soos die keer toe ’n vrou vir haar man ’n private foto’tjie gestuur en dit by ’n netbalgroepie van mammas geland het.

Aarde sluk my in! Ongelukkig, tot vandag toe sluk die aarde mens steeds nie in nie!

Sou jy iets verbaal vir iemand sê, is die kanse goed dat daardie woorde, of dit nou mooi, opreg, kwetsend, vertroostend of beledigend was, slegs in daardie persoon se onthou bly voortleef.

Maar, as jy eers iets op die sosiale media gestuur het, bestaan dit vir altyd en vir ’n hele skare van lesers. Mense neem foto’s daarvan en/of stuur dit aan ander.

Sosiale media is dalk tog skerper as die tong.

Tik een keer, lees twee keer en hersien drie keer – as jy tyd het. Of leef maar saam met die nagevolge. Daar is seker altyd plek vir ’n rooi skaam gesiggie, ’n verskoning, ’n grappie of ’n hengse verduideliking na die tyd…

Nou ja, soen julle later, ek gaan net gou oortree!