Bly aan die gang

755
oefening

Jou brein is net so deel van jou liggaam soos jou hart. Al twee sal baat vind daarby as jy gereeld in beweging kom, oftewel oefen.

Jou brein is net so deel van jou liggaam soos jou hart. Al twee sal baat vind daarby as jy gereeld in beweging kom, oftewel oefen.

Wat doen oefening vir my brein?

Navorsing toon dat oefening die vorming van nuwe breinselle bevorder en selfs jou breinvolume vergroot. ’n Onlangse studie het bevind langafstandhardloop is veral goed hiervoor, maar ander soorte aërobiese oefening behoort ook voordelig te wees.

Mik om vir minstens 30 minute elke dag aktief te wees. As jy te besig is om vir ’n volle halfuur te gaan stap, verdeel dit in drie 10-minuut-stappies deur die loop van die dag. Probeer om vir minstens 150 minute ’n week matige tot intense aërobiese oefening te doen, of baie intense aërobiese oefening vir 75 minute ’n week. Die ideaal is om dit deur die week te versprei.

Vir matige oefening kan jy vinnig stap of swem, en draf en aërobiese danse tel as intense oefening. Doen ook minstens twee keer ’n week spieroefeninge met gewigte of jou eie liggaam se weerstand.

Hoe gemaak as ek heeltyd sit?

“Sit is net so sleg soos rook,” lui die opskrifte. Selfs al oefen jy elke dag in die gimnasium, maar jy sit vir meer as tien uur ’n dag, is dit steeds net so sleg vir jou gesondheid soos om daagliks tien sigarette te rook, sê dr. Stephen Kopecky, ’n Amerikaanse kardioloog. Sy raad: Staan elke uur op en stap vir minstens twee minute vinnig rond. Dit sal moontlik die negatiewe uitwerking van te lank stilsit teëwerk.

Hou ’n bottel water op jou lessenaar – die gereelde stappies kleedkamer toe verplig jou om op jou voete te kom. Staan op en gaan praat met kollegas wat ’n entjie verder sit eerder as om te bel of ’n epos te stuur. Gaan stap in jou middagetepouse, al is dit net om die kantoorgebou of die blok.

En as ek nie van die gimnasium hou nie?

Selfs al pas jy nog nie in daardie medium fietsrybroekie nie, is dit die moeite werd om aan te hou oefen. Om fiks te wees is baie belangriker vir jou gesondheid as om maer te wees, sê dr. Kopecky. “In elke studie is fiksheid elke keer belangriker as hoe vet jy is.”

Fisieke aktiwiteit kan jou risiko vir hartsiekte en Alzheimersiekte met byna ’n derde verminder. Jy hoef nie elke dag ’n uur op die oefenfiets deur te bring en jouself met die persoon langs jou mee te ding nie. Jy hoef nie ’n maraton te gaan hardloop om gesond te wees nie.

“Die voordeel tree in wanneer jy bloot van stilsit tot aktief oorgaan,” sê dr. Eric Klug, ’n kardioloog van Johannesburg. “Die vrou wat hard oefen in die gimnasium is nie gesonder as die vrou wat vir ’n halfuur in haar woonbuurt stap nie. Sy is dalk fikser, maar nie noodwendig gesonder nie.”