Bly fiks, stres minder

0
43
oefening

Jou 40’s is waarskynlik die beste tyd van jou lewe. Jou kinders is groot en jou loopbaan is op dreef. Nou raak jou metabolisme egter ook stadiger en kan stres jou opkeil.

Jou 40’s is waarskynlik die beste tyd van jou lewe. Jou kinders is groot en jou loopbaan is op dreef. Nou raak jou metabolisme egter ook stadiger en kan stres jou opkeil.

Die einde van stres

Jou kinders weet dis tyd om op te staan wanneer hulle ruik hoe jy die roosterbrood verbrand. Terwyl jy die een se hare kam, help jy die ander een om tande te borsel. Kort daarna soek jy verwoed na die motorsleutels en werk vanaand se spyskaart in jou kop uit. ’n Blou Maandag op kantoor lê boonop voor.

As jy al ooit so ’n oggend gehad het, weet jy waarskynlik wat stres beteken.

Stres kan ’n nadelige uitwerking op jou gesondheid hê, maar as jy weet hoe om dit te bestuur, sal jy maklik deur jou dag kom. Fokus daarop om kortisol – die sogenaamde streshormoon – te verlaag. Gereelde oefening is ideaal, maar as jou tyd min is, is daar ook ander raad.

DIE OPLOSSING: Sodra jy voel jy raak buite beheer, druk ’n stukkie kougom in jou mond. Dit verlig dadelik spanning en verlaag die kortisol met sowat 15%, toon ’n studie deur die Universiteit van Northumbrië in die Verenigde Koninkryk. Jy het van nou af ook ’n goeie verskoning om ’n massering te kry: Dit stimuleer die produksie van dopamien en serotonien, die “goedvoel”-hormone.

Drink swart tee in die oggend in plaas van koffie. Studies toon dit verminder die kortisol met amper die helfte. Die polifenol en flavonoïed wat daarin voorkom, laat jou ook rustiger voel. ’n Koppie Joko of Five Roses tee is net die ding!

Bou jou immuunstelsel

Die oggend het jy nog gesond gevoel, maar teen die middag begin dieselfde verkoue wat jou al die afgelope maand pla, weer sy opwagting maak. Dít terwyl jou vriendin skotvry deur elke winter gesweef het. ’n Swak immuunstelsel is die oorsaak. Volwassenes sal oor die algemeen gemiddeld drie verkoues per seisoen kry, wat elk tussen drie en vier dae duur. As jy meer kry, beteken dit jou weerstand is laag.

Jou gewoontes het baie te doen met ’n swak immuunstelsel. Een daarvan is die hoeveelheid suiker wat jy eet. Slegs 100 g suiker – sowat drie blikkies gaskoeldrank – kan inmeng met witbloedselle se vermoë om bakterieë dood te maak. ’n Droë neus is nog ’n teken van ’n swak immuunstelsel. Slym vang virusse en bakterieë op en skei dit uit jou liggaam uit. As jou neusholtes te droog is, kan kieme makliker daar uitbroei. Jy kan die probleem oplos deur ’n neussproei aan te skaf.

DIE OPLOSSING: Eet kosse wat ’n sterk geur het sodra jy voel daar is ’n verkoue aan die kom. ’n Dieet propvol knoffel en gemmer sal kieme ver weghou. Eet ook meer gesonde probiotika, soos dié wat in jogurt voorkom. Dit vermeerder die goeie bakterieë in jou dermkanaal en help so om siektes te beveg, aangesien 70% van jou immuunstelsel hier geleë is. Probeer Nutrilida se ProbiFlora Adult Intensive Rescue (R130 vir 30 kapsules).

’n Stadiger metabolisme

Die dag dat jy 40 tref, is dit asof jou lyf gaan stilstaan. Skielik kan jy nie meer eet wat jy wil nie en moet jy twee keer so hard oefen om nie gewig aan te sit nie. Jy verbeel jou gelukkig nie: Ná 40 sit jy met ’n metabolisme wat elke tien jaar met 5% afneem. Dit beteken jy moet minder eet en meer oefen net om jou normale gewig te handhaaf. Eet en oefen dieselfde as in jou 30’s en jy kan tot 10 kg per jaar bykry.

Baie faktore beïnvloed jou metabolisme, soos jou stresvlak of ’n onder- of ooraktiewe skildklier. Namate jy ouer word, verloor jy stelselmatig spiermassa, wat ook tot ’n stadiger metabolisme bydra.

DIE OPLOSSING: Jeans wat te styf pas hoef nie jou voorland te wees nie. Spierweefsel verbrand meer kilojoules as vetweefsel. Doen enige oefening wat jou spiermassa sterker maak, soos om gewigte op te tel of vyf minute lank op die roeimasjien te sweet.

Beperk kilojoules deur suiker heeltemal te vermy – of dit nou koeldrank, lekkers, koek of tert is. As jy ’n aanvulling wil gebruik, kies een wat groentee-ekstrak bevat, soos USN se CLA Green Tea (R85).