Bly hoop in wanhopige tye

1539

Iemand het gesê ’n mens kan 40 dae sonder kos klaarkom, drie dae sonder water, agt minute sonder suurstof, maar sonder hoop nie eers een sekonde nie.

Meer as tweeduisend jaar gelede het die antieke Griekse filosoof Plato gesê dit wat die mens van die res van die skepping onderskei, is hoop. Omdat ons glo, weet ons die beste lê nog vir ons voor. Dit is die rede waarom ons anders praat en leef as die res van die wêreld.

Leef elke dag voluit, want daar is altyd uitkoms

Ons is geneig om altyd die slegste te verwag. As jou maag pyn, dink jy dadelik jy het ’n verskriklike siekte. Dis maklik om in ’n doemprofeet te verander as dinge donker lyk. Vrees, onsekerheid en bekommernis blus baie maklik die vlammetjie in ons.

Maar om te bly hoop beteken om met verwagting uit te sien na al die positiewe dinge wat vir jou voorlê. Jeremia 29:11 sê daar word voorspoed en nie teenspoed nie vir ons beplan.

’n Goeie vergelyking van ’n seker wete is die boer wat sy lande ploeg, plant en dan met afwagting uitsien na die oes. Die boer twyfel nie dat daar ’n oes sal wees nie. Alles word soos gewoonlik voorberei vir die oes wat ingesamel moet word. So moet ons met ’n seker verwagting leef dat daar altyd uitkoms sal wees, en weet dat ons nooit alleen is nie.

Laat jou woorde en dade ander bemoedig

Om te glo en hoopvol te bly is om dinge anders te sien. Dit neem nie alle probleme weg nie, maar dit sal jou innerlik sterk maak te midde van jou probleme.

Selfs ons foute en onvoorsiene gebeure kan vir ʼn positiewe doel gebruik word. Penisillien is juis op so ’n onwaarskynlike wyse ontdek. Dr. Alexander Fleming was besig om onder ’n mikroskoop na ’n bloedmonster te kyk toe spore van sy gemufde broodjie langs hom op die bloedmonster beland het. Hy het dadelik die effek daarvan opgemerk. Dit was die begin van ’n mediese wonderwerk.

Ons hoop is opstandingshoop. Dit is gevestig op iets wat reeds gebeur het en nie kan verander nie. Dit is gegrond op ’n leë graf. Daarom moet ons hoopverspreiders wees wat ander mense bemoedig. Ons woorde en dade moet genesing bring. Kolossense 4:6 sê: “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”

Wanneer jy die mooie in ander sien en lig bring in hopelose situasies, leef jy met ʼn hart vir jou naaste.

Reik uit na ander ten spyte van swaarkry

Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, en om oortuig te wees van die dinge wat ons nie kan sien nie. So sê Hebreërs 11:1. Dit is om te bly hoop wanneer almal wanhopig is.

Dit is nie om my vertroue in myself te stel nie, met ander woorde hoe goed ek glo nie. Dis eerder om die beheer van jou lewe oor te gee aan die Een wat eindelose rus gee. Uitkoms hang nie van jou af nie, dit kom net van Bo.

Hoop word gebore daar waar ’n mens bo jou eie wanhoop uitstyg as jy betrokke raak in ander se lewens, by hulle vreugde en pyn, en as jy met jou naaste se hart kan praat. As jy uitkoms wil hê in moeilike omstandighede, as jy bemoedig wil word, gaan doen dit dan aan iemand anders.

Die storie word vertel van ʼn sekere dorpie wat deur ’n ernstige droogte geteister was. Na maande van swaarkry besluit die verskillende kerke in die dorp om hande te vat en saam te bid vir reën. Die predikers vra toe dat mense simbole van geloof moet saambring na die biduur toe. Baie mense het kruise en Bybels saamgebring. Na ’n uur van saambid het dit wonderbaarlik begin reën. Een klein dogtertjie se simbool van hoop het bo almal uitgestaan: Sy het ’n sambreel saamgebring.

Die bekende teoloog Karl Barth skryf: Hoop is om môre se musiek vandag te hoor. Om te glo is om vandag reeds op maat van dié musiek te dans.

Liesel Krause-Wiid, predikant

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.