Bly jy of gly jy?

Skielik kom ‘n mens by ‘n draaipunt in jou lewe en jy moet God se wil, God se rigting, kies.

Bly jy? Of gly jy?
Hoe doen jy dit? Hoe weet jy?
En sê nou jy kies verkeerd. Wat dan?

Wat dan?

“Die Here sal julle help as Hy hoor julle roep na Hom en vra vir sy hulp. Hy sal julle gebede verhoor die oomblik wat Hy dit hoor. Al het die Here vir julle verdrukking vir kos en swaarkry vir water gegee, sal julle sien dat Hy nog steeds bereid is om julle te leer.”
Jesaja 30:19

Dank die Here dat Hy ‘n God is wat nooit die werk van Sy hande (in my) laat vaar nie!

“Our God is a God
of completion.
He makes promises and
then He fulfills them.”
Lysa Terkeurst

Net so in lyn hiermee skiet ‘n baie relevante artikel van Relevant Magazine (www.relevantmagazine.com) toe oor my Facebook blad hierdie week: “Why I left the cult of ‘calling’ and why you should too” deur Leslie Verner.

Eerlik? Ek wou nie waarheid daarin sien nie.
Ek wou nie so gefasineer wees deur haar goeie redenasies en mooi beelde nie.
Ek wou nie eerlik voor ‘n spieël loop staan en my eie ‘calling’ in die oë kyk nie, want ‘calling’ is ‘n goeie ding. Dit gee rigting aan my lewe en fokus in ‘n dolle gejaag.

Dus, sonder dat ek regtig wou het ek hierdie week ‘n paar goed oor myself geleer.

Ek het geleer dat ek nie geroep is om sendeling te wees of tentmaker dominee of tuisbly-vrou-vir-my-man of skryfster of mentor of ekstreme blogger of selfs hoopgewer nie.
Ek is geroep tot intimiteit met Jesus Christus. Dít is my roeping in die lewe.

En as ek dan besef dat die manier waarop ek my roeping uitleef nie die enigste manier is om dit te doen nie, dat deur van rigting te verander dit nie alles wat ek tot hiertoe gedoen het tot niet maak nie… dan leer ek ook dat dít nie van my ‘n mislukking maak nie.
(En as ek dit so sien, het ek myself dalk net so op ‘n effense troontjie geplaas en was dit nodig om terug aarde toe te kom. Tussen ‘gewone’ mense. Wat nie ‘geroep’ is nie.)

Ek het geleer dat as ek agterkom dat dit wat ek eens op ‘n tyd gesien het as my ‘roeping’ juis die ding is wat my weg van my Eerste Liefde kan verlei, dan het ek van my ‘roeping’ ‘n afgod gemaak.

Ek moes net weer hoor dat ons geroep is vir Jesus – om Sy voete met ons hare af te vee, om voor Hom te dans, om weer en weer verlief te raak op Hom, om onsself oordadig te versadig met Sy liggaam en Sy bloed. En wanneer ons hierdie roeping ten volle uitleef, dán eers gee ons Hom alles wat ons het en alles wat ons is.

As ek dan die roeping van skryf ontvang het, dan skryf ek vir Hom. As Hy die deure oopmaak om Sy hande en voete in ‘n ander land te gaan wees, dan gooi ek myself volkome daarin net soos wat ek tuis sou doen. As ek die roeping van ‘n gesinsmens ontvang het, dan lééf ek daar die liefde wat ek voel elke keer wanneer ek myself by Sy voete gaan stilmaak.

Wanneer my idee oor my roeping egter verkeerd bewys word, of wanneer my idee oor my roeping ‘n nuwe diepte kry en my lewe daarmee saam ‘n 180 grade draai maak, dan is dit nie die einde van MY nie. Ek is nie my roeping nie.

Daarom wil ek nie langer vir mense vertel van my roeping nie. In die eerste plek klink dit so asof ‘n spesifieke roeping een mens hoër verhef as ander wat saam met my om die son reis. En dit is so ver van waar af.

Maar ook – as ek so selftevrede kan praat oor my roeping, watter ruimte gee ek God om ‘n rigtingaanpassing in my lewe te maak? Watter spasie gee ek die Here om dinge en gebeure en omstandighede so rondom my te rangskik dat ek Sy heel beste pad deur hierdie dwaalkronkels van die lewe kan kry?

So, hoe doen ‘n mens dit? Hoe weet jy wat daardie spesifieke pad is waarlangs die Here Sy baie spesiale seëninge vir jou bêre?

Jy bid, jy vra, jy luister.
En dan – met vrede in jou hart – (die enigste ware maatstaf)
neem jy jou besluit.

Dis so ‘n onbevredigende gedagte, maar…: Selfs dan kry ons dit soms nog verkeerd.
Dis soos die Bokke wat 78 minute lank puik rugby kan speel en in die laaste paar minute kies om te hardloop, eerder as om te skop. En dan die ‘game’ verloor.
Teleurstellend, maar waar.

Een ding weet ek seker: Al maak ek die verkeerde besluit, al is my intensies ook hoe eerbaar en my motiewe silwersuiwer, God los my nooit nie.

As ek self weer die krummels moet loop soek om terug te kom op die regte pad, dan sê Jesaja die volgende vasknoopwoorde:

“Wanneer julle die pad byster raak, sal Julle sy stem agter julle hoor sê:
‘Hier is die regte pad, loop hierlangs.’”
Jesaja 30:21

Hierdie week het ek geleer om te sê: “Hierdie is my roeping. Vir nou.”

As (wanneer) daardie roeping dan verander, bly my voete steeds op ‘n vaste Rots staan, want Hy verander nooit nie.

Hierdie week wil ek onthou:
Soms is my roeping om te gaan.
Maar soms is my roeping om te bly.

Vorige artikelGod se hartklop
Volgende artikelKoekies bak
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!