Bly mooi in jou 30’s, 40’s, 50’s

0
30
bly_jonk.png

Skoonheid is deel van elke vrou se lewensreis. En jy lyk net so goed soos jy voel. Hier is alles wat jy moet weet oor jou vel, jou hare en jou lyf om fantasties te lyk in elke dekade.

Skoonheid is deel van elke vrou se lewensreis. En jy lyk net so goed soos jy voel. Hier is alles wat jy moet weet oor jou vel, jou hare en jou lyf om fantasties te lyk in elke dekade.

IN JOU 30’s

Hou jou vel mooi in jou 30’s

Daar steek waarheid in die gesegde dat jy as jong meisie die gesig het waarmee jy gebore is, maar as ’n ou dame erf jy die gesig wat jy verdien.

In jou 30’s kan jy beslis ’n verskil maak aan hoe jou gesig oor dertig jaar gaan lyk. Jy lê nou die grondslag vir jou verouderingstrategie. Let eerstens op die gewoontes wat jou voorkoms affekteer en verander die slegtes.

Werk jy te rof wanneer jy jou grimering verwyder? Druk jy jou selfoon teen die kant van jou gesig vas, maar jy vee nooit jou handstuk met ’n antiseptiese doekie skoon nie? Leun jy lank met jou wang of ken in jou handpalm wanneer jy op jou rekenaar werk? Vryf jy jou gesig woes wanneer jy allergieë kry? Al hierdie aksies kan jou vel onnodig irriteer. Inflammasie beteken veroudering. Hoe minder stremming jy op jou vel sit en hoe minder jy dit aan onsteriele dinge soos vingers en telefone blootstel, hoe beter.

Jy vind nou vir die eerste keer dat die sondes van jou jeug jou inhaal. Sonblootstelling, leefstyl, hormone en aknee raak permanent sigbaar op jou gesig as donker areas, rooiheid of littekens. Jou hele skoonheidsroetine moet hierdie tekens van ouderdom bestry. Elkeen van jou velsorgprodukte moet meerdoelig wees en jou ekstra waarde gee buiten om slegs ’n reiniger of ’n vogroom te wees. En as jy nog nie daagliks sonskerm gebruik nie, is al jou jonkbly-pogings gedoem.

Hoe om jou grimering vinniger te doen

Jy is nog jonk genoeg om nie swaar onderlaag te dra nie. En jy is te besig met jou loopbaan, jou geliefde en jou kinders vir ’n ure lange skoonheidsroetine. Gebruik meerdoelige grimeerprodukte soos BB-room, wat ’n sonskerm en onderlaag in een is.

As jy lief is vir baie grimering, maak kennis met jou nuwe gunstelingproduk – ’n gesigsproei. Dié tipe produk help om jou grimering te set en is veronderstel om grimering langer te laat hou. Die groot waarde hiervan is egter dat dit grimering meer natuurlik en foutloos laat lyk. Dit gee jou ook ’n lieflike, jeugdige glans. Hannon se Moisture Seal is beskikbaar op voelgoedwinkel.co.za teen R115.

Dra ’n lipstiffie of lipglans wat perfek by jou pas en wat jy tjoef-tjaf kan aanwend sonder om in ’n spieël hoef te kyk. Jou lipkleurpasmaat is ’n neutrale skakering wat amper dieselfde is as jou natuurlike lipkleur, net helderder. Gestel jou lippe is pienk, kies ’n donkerder rooskleurige lipproduk om dit meer intens te maak.

Permanente grimering klink dalk soos ’n goeie idee, maar grimeertendense verander. As die skoonheidsterapeut jou swak tatoeëer, gaan jy die res van jou lewe met daardie gesig die wêreld moet aandurf. Wees seker dat jy by die mees ervare en bes opgeleide kunstenaar is. Sulé Loggenberg is in Amerika opgelei en een van ons land se bestes in hierdie veld. Besoek haar webwerf www.permanentmakeupsociety.co.za vir riglyne en kontakdetails as jy permanente grimering oorweeg.

IN JOU 40’s

Die beste velsorgroetine vir jou 40’s

Los maar die springmielies en koeldrank wanneer jy weer gaan fliek en spaar eerder om vir jou ’n goeie verfermende oogroom te koop. Dit bevogtig die vel rondom jou oë en die hialuroonsuur daarin versag fyn lyntjies en plooitjies.

Die regte vogroom is ook noodsaaklik. Baie vroue vind hulle vel word droër wanneer hulle ouer is. Skakel oor na ’n ryker bevogtiger. Terselfdertyd moet jy sommer oorslaan na ’n romerige reiniger wat grimering en vuilheid verwyder sonder om jou vel te irriteer.

Bou kollageen, want dit hou jou vel elasties. Jy kan dit doen deur vitamien A op jou gesig te gebruik. Vra die skoonheidskonsultant vir ’n produk wat retinoïede bevat of kry ’n voorskrif by jou dokter vir ’n kragtige tretinoïenroom.

Sonskade aan jou arms en bors is nou dalk meer opvallend. As jy gereeld bestuur, sal jy oplet dat die regterkant van jou lyf meer oneweredige pigmentasie het as jou linkerkant. Onthou om sonskerm getrou op jou hande en arms aan te wend.

Die ander rede waarom jy op jou nek en bors verouder, is as jy parfuum hier spuit. Parfuum bevat baie alkohol, wat jou vel uitdroog en dun maak. Die alkohol maak ook jou sonskermroom oneffektief. Geen kosmetiese produk bevat ook soveel ander sensitiserende bestanddele soos parfuum nie.

Smeer jou hande mildelik met handeroom in elke aand voor jy gaan slaap. Dit is ’n goeie idee om handeroom in jou bedkassie, in jou kantoorlaai en in jou motor te hou.

Moets en moenies vir jou grimeerroetine

Maak lippotlood jou beste vriendin. Omlyn eers jou mond. Gebruik ’n sagte lippotlood – die nuwe soort is so groot soos ’n vetkryt sodat jy jou hele mond maklik daarmee kan inkleur.

’n Truuk wat jou gesig beter definisie gee en jou wange blosend laat lyk, is om twee blossers te gebruik. Begin met ’n neutrale kleur soos ligpienk, ligbruin of appelkoos. Swiep dit aan in die rigting van jou slape soos gewoonlik. Tik daarna ’n tweede, helderder kleur net op die appel van jou wang. Jy kan die effek nog meer versterk met vogroom. Versprei ’n minimale hoeveelheid vogroom tussen jou handpalms. Maak jou hande bak en tik die bietjie vog op albei wange.

’n Verlies aan volume word met velsorgprodukte behandel, so, moenie jouself pootjie met die verkeerde grimering nie. Vermy gesigpoeier met glanspartikels of blink oogskadu reg bo of onder wenkbroue anders sal dit jou oogbanke en holtes by jou slape oorbeklemtoon.

Oogomlyner gee jou oë die nodige definisie. Skakeer die oogomlyner sagkens met ’n mediumgrootte rondepuntkwas vir ’n gesofistikeerde, rokerige effek.

Maak wenkbroujel deel van jou grimeerroetine. Dit gee kleur aan wenkbroue waar daar dalk ’n grys haartjie kop uitsteek. En dit tem weerbarstige wenkbrouhare wat in die verkeerde rigting wys.

IN JOU 50’s

Velsorgadvies as jy 50 en ouer is

Dra ’n sonbril en gebruik die korrekte leesbril of kontaklense, nie net vir oogkundige redes nie, maar sodat jy nie jou oë op skrefies hoef te trek nie. So voorkom jy ’n fronsplooi enkraaispoortjies om jou oë.

Gebruik van vandag af jou velsorgserums tot op jou oorlobbe en in jou nek tot op jou skouers en halslyn. Wanneer jy velsorg aanwend, moet jy werk teen die rigting van swaartekrag. Maak jou hande soos bakkies en werk tegelykertyd met albei – eers die een en dan die ander. Smeer jou velsorgmiddels van onder af boontoe aan. Begin by jou nek en werk op tot by jou ken, jou kakebeen, jou wange en eindig by jou voorkop. Jy moet immers elke dag van jou lewe jou eie velsorgterapeut wees.

Middels soos Botox sal jou voorkop en fronsspiertjies tydelik verslap, maar vir diep groewe het jy vullers nodig. Oormatige vullers kan egter die karakter van jou gesig verander. Maak daarom staat op ’n erkende estetiese dokter. Jenny Irvine van die Aesthetics Centre in die ooste van Johannesburg verstaan hoe om ’n vrou verfris te laat lyk sonder dat jou nuuskierige buurvrou sal agterkom dat jy so ’n bietjie hulp van estetiese middels gehad het.

Grimeerwenke wat jou jonger laat lyk

Jy mag dalk voel jy het meer foute op jou gesig om toe te smeer as jy oor 50 is, maar waak teen te veel grimering. Dit versamel in die voutjies van jou vel en beklemtoon plooie. Jou onderlaag moet veerlig wees maar goeie bedekking gee en in plek bly. Vermy ’n pienkerige onderlaag; kies eerder ’n formule met ’n geel ondertoon wat rooiheid teenwerk.

Jou grimering moet nie op jou ken eindig nie. Skakeer jou onderlaag met jou kwas of spons tot onder jou kakebeenlyn. Gebruik dan ’n ligte poeieronderlaag met ’n mineraalbasis om jou nek en hals (as dit wys) meer eweredig te laat vertoon.

Gee jou gesig kleur! Tamaryn Pretorius, die grimeerkunstenaar vir hierdie artikel se fotosessie, gebruik graag koraalpienk blosser met ’n ragfyn glinstering daarin. Dit gee lewe aan jou gesig en help om jou wange voller en plomper te laat lyk.

Hoe ouer jy raak, hoe meer sensitief raak jou vel, ongelukkig ook vir grimering. Waterbestande jel-oogomlyner en maskara sal verseker dat jou grimering nie smeer as jou oë geïrriteerd raak en traan nie.

’n Geheim van die sterre is vals wimpers. Probeer dit gerus. Jy kan deesdae wimperverlengings by ’n skoonheidsalon laat doen. Of koop die kortste, fynste en ligste stel wimpers en wend dit self aan. Die idee is net om jou die soort wimpers terug te gee wat jy in jou tienerjare gehad het.

Kliek hier om te sien wat van Suid-Afrika se mooiste sterre doen om pragtig en jonk te bly.
Wen die mooimaak-produkte wat bekendes gebruik!

Artikel deur Ryno Mulder