Bly slank met slim vakansiekos

0
51
amy_kleinhans.jpg

Moenie dat vakansie jou laat bekommer oor gewig nie. Jy kan met hierdie idees die skaal dophou én lekker eet.

Op 46 lyk Amy Kleinhans-Curd nie ’n dag ouer as toe sy in 1992 as Mej. Suid-Afrika gekroon is nie. Sy skryf haar slankheid toe aan die feit dat sy ’n rolmodel vir haar vier kinders wil wees. Selfs tydens vakansies maak sy seker haar gesin handhaaf ’n gesonde leefstyl.

Koop basiese bestanddele om in groot geregte te gebruik

Omdat my man ’n Nieu-Seelander is, kuier ons een jaar hier by my familie en die volgende jaar by sy familie oorsee. Hierdie jaar is dit my man se beurt. Mense lag en sê ek gaan lekker vakansie hou daar, maar dit werk nie so nie. Ons is ’n groot familie – 21 stuks altesaam – en as jy vier weke lank vir almal moet kos maak, moet jy nogal vinnig kan dink om disse by die groot maat te maak wat gesond én smaaklik is. Ek hou altyd ’n paar basiese bestanddele in die koskas. Ek gebruik jogurt in smoothies en maak daarom altyd seker dat ek baie daarvan het. Blikkies klappermelk en Thaise groenkerrie hou lank en kan in roerbraaie gebruik word. Balsemieke asyn en olyfolie is ook altyd byderhand om by slaaie te voeg.

Wees kreatief met die vorige aand se oorskietkos

Ek dink kreatief wanneer dit my beurt is om kos te maak. Vir ontbyt sal ek gewoonlik die vorige aand se oorskietvleis in ’n groot frittata omskep. Ek hou middagetes baie lig en maak meestal platters. As ek sien vrugte of groente raak ’n bietjie papperig teen die einde van die week, maak ek sommer ’n groot hoeveelheid smoothies. Ek gooi al die vrugte in ’n voedselverwerker, saam met volroom Bulgaarse jogurt, neute en esdoringstroop. Die lekkerte van sulke grootmaatdisse is dat jy dit ook as middagete kan bedien. As daar genoeg oorbly, kan jy ’n groot smoothie-bak met baie ys in die middel van die tafel sit, saam met allerhande ander happies. Hulle is mal daaroor.

Dis beter om weg te bly van suiker en meelprodukte

In die somer is dit baie makliker om my figuur te behou. Ek het baie meer energie en beweeg gevolglik baie meer. Ek vind dat jy meer bewus is van wat met jou lyf gebeur as jy klere dra wat nie jou figuur wegsteek nie. Ons eet ligte maaltye en bly weg van suiker en meelprodukte. Dit maak ’n groot verskil aan my gewig, maak nie saak wat die seisoen is nie.

Moenie jouself lekker kos ontsê nie

Die beste raad wat ek vir vroue kan gee, is om ’n klein bietjie oefening elke dag te doen. Om twee weke lank elke dag 20 minute lank te stap of te swem is beter as om slegs een keer in die vakansie drie uur lank te gaan stap. Dieselfde reël geld vir eet en drink. Ek ontsê myself selde enige kos tydens vakansies. Ek probeer egter om die porsies baie klein te hou. Ek eet byvoorbeeld drie happies van ’n sjokoladekoek in plaas van ’n hele sny.