Bly weg van besig met besigwees

0
523

As die uitvoerende hoof van bemarking en kommunikasie van Curro Holdings bepaal Mari Lategan prioriteite deur die impak wat iets kan maak.

As ’n joernalis het ek ná ’n MBA-graad ook ’n liefde vir somme ontdek. Die besigheidgogga het my gebyt en die idee het begin posvat om my kennis oor publikasies te gebruik om maatskappye te help om te kommunikeer. Curro Holdings was ’n kliënt en het my gevra om permanent by hulle aan te sluit. Uiteindelik het hulle my hele span oorgeneem en het ons hulle kommunikasie- en bemarkingsafdeling geword.

Ek is beslis ’n werkolis, maar is nog steeds ’n ma ook. As jy sien hoe vinnig jou kinders grootword, besef jy hoe min tyd jy het. Dit laat jou stilstaan en kyk na waarmee jy besig is, en jouself daarna beter bestuur.

Daarom word produktiwiteit nie gemeet aan die aantal take wat afgehandel is nie, maar aan die impak wat iets sal maak. Een ding wat beslis nie vir my is nie, is om, soos die Hollanders sê, besig te wees met besigwees. My toets is dat dit nie saak maak wat jy doen nie, maar hoekom jy dit doen. As dit nie regtig verandering in die wêreld gaan teweegbring nie, bly dit net ’n doenlysie. Dit is wonderlik om tussen die kinders in die skole rond te stap en die impak van my werk te sien. Ons elkeen moet ’n nalatenskap los, al is dit op ’n klein skaal.

Wanneer die dag energie en motivering uit my tap, is dit tyd om uit die kantoor te kom en op ’n ander plek te gaan sit en werk. Die geheim om weer te fokus is om stilte te skep, anders hardloop jy heeltyd. Om by die huis te gaan werk of stad toe te ry en in ’n koffiewinkel te gaan sit help om nuwe inspirasie te kry.

Om te delegeer gooi ander mense by die diep kant in, maar bemagtig hulle ook. My span het almal dinge wat hulle moet doen. Goeie raad vir hulle is: “Jou hare groei in werkstyd, so, jy kan dit laat sny in werkstyd.” Wat dit beteken, is dat jy tyd moet maak vir jouself, maar weet wat jy moet doen. Om nie werk aan hulle uit te deel nie, sal my span net frustreer. Dis beter dat ons almal meer gedoen kan kry.

Om jou oor klein dingetjies te bekommer verhoog nie net jou stres nie, maar is ’n verkwisting van jou energie. Vra eerder of dit dringend of belangrik is. Dit maak die besluit makliker, anders kan die kommer jou letterlik vet maak, want jy kyk nie behoorlik na jouself nie. Dit help baie om op die blink kant van die lewe te begin konsentreer. As jy positief bly, sal jy as iets kleins opduik, kan vra: “Maar is dit dan nou regtig die ergste?”


Curro Holdings is die grootste JSE-genoteerde, onafhanklike skoolonderneming in Suid-Afrika. Ons ontwikkel, bekom en bestuur onafhanklike skole om gehalte-opvoeding vir meer leerders reg deur Suid-Afrika toeganklik te maak. Ons kleuter-, laer- en hoërskole bied gebalanseerde akademie, sport en kultuur vir kinders van reg deur die samelewing.

Wenke vir sukses…

1) Vergeet van gister, fokus op vandag en droom oor môre.
2) Lag vir jouself en lag (uitbundig) saam met ander.
3) Handel die onaangename take heel eerste af.
4) Jy moet na jouself kyk om al jou take gedoen te kry.
5) Onthou: Niemand gaan vir jou ’n standbeeld oprig nie.

Ons bied kliënte…

Kinders het vandag nuwe vaardighede nodig. Daarom gebruik Curro Holdings 21ste-eeuse onderrig- en leermetodologie. Dit sluit die aktiewe gebruik van tegnologie in die klaskamer in. Die skole akkommodeer leerders vanaf die ouderdom van drie maande tot graad 12. Ons opvoedkundige waardesisteem moedig kindervriendelikheid, positiewe dissipline, Christelike etiek en waardes, asook kreatiewe denke aan.

Tel: 021 979 1204
Epos: engage@curro.co.za
Webblad: www.curro.co.za
Facebook: @CurroSchools
Twitter: @Curro_Schools