Blye versekering

God sien jou

Ek onthou heel aan die begin van my verhouding-bou met God het ek regtig gewonder of Hy my sien, of Hy omgee dat ek elke dag tyd uitkerf om saam met Hom te spandeer?

Was Hy werklik aangeraak deur my en my nader-tot-God-treë? Ja, nou ken ek Hom en Sy Woord veel beter maar daardie jare was ek nat agter die ore, ‘n ware groentjie in die geloof of ‘n pad saam met Jesus bewandel.

Dalk kan jy jouself vandag met my destydse penarie vereenselwig. Dalk sit jy ook vandag op dieselfde denkbeeldige stoel waarop ek daai tyd gesit het. Jy wonder gaan tyd maak vir God waarlik vrugte afwerp?

‘n Mens wonder daaroor né want daar is geen flikkerende vuurwerke wat in ekstase begin rondspring of engele wat ‘n koninklike rooi tapyt in verwelkoming voor jou uitrol soos jy die deur vir Stiltetyd agter jou toemaak nie.

Vandag wil ek jou kom bemoedig met dié woorde. Glo. Dit is regtig ‘n saak van geloof. Om tot God te nader. Hou aan en moenie stop. Kort voor lank sal jy smaak die ongelooflike ontmoetings van God se treë soos Hy ook tot jou begin nader. Nes die versie in die Bybel sê.

Sien, dis my storie. My presiese storie. Ek het Hom so begin soek, deur Sy groot wonderlike genade alleen, en het ek gevind! Wow, sjoe, jô … ek kan vir jou beloof.

Ek weet dis dikwels so moeilik om deur te druk, om te glo totdat jy ervaar maar ek wil hê jy moet vandag hoor, met die diepste plekkie van jou hart se ore … God sien. Hy sien, sien, sien jou soeke na Hom en Hy sal jou beloon.

Moenie opgee nie. As jy partymaal faal as gevolg van watter rede ookal. Weet en onthou … God vergewe en Hy wil jou so graag naby, teenaan Hom en Sy praghart hê. Ek wens jy kon sien wat ek vandag weet, Jesus self wat jou aancheer … “Kom kind, nog ‘n entjie nader, kom kyk wat is vir jou voorberei. Jy kan!” met die grootste afwagting op Sy gelaat.

Vorige artikelGoedhartigheid wen
Volgende artikelHou op kyk
Blogger - Letitia Pienewald
Letitia Pienewald is ‘n doodgewone mens wat die wonder van hartsintimiteit met God ontdek het en ander graag help om dit ook te vind. Daar was ‘n honger in my hart na meer van Jesus en toe vra ek Hom vir meer. So is die blogs King of Kings en Anker van Hoop gebore. Ek het begin om gediggies van God neer te skryf maar dis nou al veel meer. Dis ‘n voorreg om my pad saam met die Here met julle te deel. ‘n Gebed is dat my en jou bewondering vir God altyd nuut en vars sal bly. Verder is ek lief vir die lewe en so dankbaar vir genade en hoop, waarsonder ek nie kan nie.